Saak teen Calitzdorp ses weer uitgestel, sloer 7 jaar

Die lang uitgerekte saak teen ses verdagtes van Calitzdorp wat tereg staan op klagtes van menseroof, roof met verswarende omstandighede en aanranding is gister in die Oudtshoorn streekhof tot 7 September uitgestel met die hoop dat almal dan oor regsverteenwoordiging sal beskik.

Renaldo Jelander en Jeraad Meshoa het die hof met hul vorige verskyning op 8 Augustus, meegedeel dat hulle reeds langer as sewe jaar in hegtenis gehou word en dit in belang van geregtigheid is dat hulle op borg vrygelaat word.

Hulle pak die skuld vir die lang tydperk wat hulle in aanhouding is op die staat.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het hul aansoeke teengestaan omdat, volgens hom, dit die beskuldigdes se eie toedoen is dat die saak nog nie afgehandel kon word nie.

As gevolg van die voortdurende verandering van regsverteenwoordigers en by tye ook die afwesigheid van een of ander beskuldigde.

Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat die blaam vir die saak wat nie afgehandel kan word nie, nie op die staat geplaas kan word nie en het Jelander en Meshoa se aansoeke van die hand gewys.

Die ses, Donovan Wagenaar, Adriaan Jansen, Nathan Grootboom, Ruiter Kamoetie, Renaldo Jelander en Jeraad Meshoa word daarvan beskuldig dat hulle op 3 Januarie 2016 vir Petrus Pieterse met kapmesse gedreig of geslaan het, hom van R5 080 kontant, twee selfone en 30 bottels bier beroof het.

Hulle word voorts ook daarvan aangekla dat hulle Gerhard Jelander (37) aangerand het. Hulle het ook vir Coenraad Snyman (54) in sy motor gedwing en forseer om met hulle van die toneel weg te jaag. (Deur Garnett Wicomb)