’n Man van Oudtshoorn met agt vorige ver-oordelings wat 12 blokke sjokolade van ’n supermark gesteel het, is verlede week in die landdroshof ’n opgeskorte vonnis van vier maande opgelê nadat hy aan winkeldiefstal skuldig bevind is.
Christo Bezuidenhoudt (40) het skuldig gepleit en gesê dat hy werkloos en honger was toe hy die sjokolade gesteel het.
Sy regshulpprokureur, Wynand Malan, het die hof versoek om in ag te neem dat hy skuldig gepleit het en die pa van twee kinders is.
Hy het toegegee dat winkeldiefstal ’n groot bron van kommer is en algemeen voorkom.
Die staatsaanklaer, Cameron Rhode, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Bezuidenhoudt nie ’n eerste oortreder is nie en winkeldiefstal ’n groot bron van kommer is.
Volgens hom is dit die publiek wat daaronder ly omdat winkeleienaars hul pryse verhoog om te vergoed vir hul verliese. Bezuidenhoudt het ook ’n ander opgeskorte vonnis wat oor sy kop hang en in werking gestel kan word.
Landdros Schoeman het Bezuidenhoudt nog ’n kans gegee en hom tot vier maande gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik vir drie jaar opgeskort is. (Deur Garnett Wicomb)