Verkragter kry 8 jaar

’N MAN van Bridgton, Oudtshoorn wat aan verkragting en seksuele aanranding van sy vervreemde vrou skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof effektief tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.

Ricardo Solomons (38) is daaraan skuldig bevind dat hy die ma van sy drie kinders op 26 Julie 2020 in haar blyplek in die sogenaamde Blinkhokke in Riemvasmaak, seksueel aangerand en verkrag het.

Hy is onskuldig bevind op ’n klagte van huisbraak terwyl die staat ’n klagte van oortreding van ’n beskermingsbevel teen hom teruggetrek het.

Die vrou het getuig dat hulle ten tyde van die voorval besig was om te skei.

Sy het saam met haar nuwe kêrel gewoon en was die betrokke aand reeds aan die slaap toe die beskuldigde ongenooid by haar huis met hul kinders opgedaag het.

Volgens haar het Solomons daarop aangedring dat haar nuwe kêrel ook na die kinders moet omsien. Haar kêrel het Solomons toe met ’n piksteel verwilder en weer gaan slaap. Solomons het teruggekeer en, terwyl die kêrel vas aan die slaap was, die dade met haar gepleeg.

Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnis-oplegging gesê die verkragting verskil van die meeste ander wat in die hof verhoor word.

Sy het in ag geneem dat die vrou nie enige beserings opgedoen het nie en dat Solomons ’n eerste oortreder is.

Sy het ook sy tydperk in aanhouding in ag geneem en bevind dat die voorgeskrewe vonnis van tien jaar vir verkragting nie van pas sal wees nie.

’n Boodskap moet egter uitgestuur word dat die pleeg van misdaad nie geduld kan word nie, het Mandla gesê.

Solomons is tot agt jaar vir verkragting en vyf jaar vir seksuele aanranding gevonnis wat samelopend uitgedien kan word, en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)