DIE De Rust Polisie ondersoek ’n klag van poging tot moord nadat ’n bejaarde man van De Rust Sondag (10 Oktober) na bewering deur ’n voormalige werknemer van hom met ’n kapmes, beter bekend as ’n panga, aangeval is.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die 74-jarige man vroeg die oggend na die Mediclinic Klein Karoo gejaag nadat hy omstreeks 07:45 deur polisielede met oop wonde aan sy arms gevind is toe hulle na ’n woning in Hoopstraat ontbied is.
Pojie sê die 64-jarige verdagte is na bewering ’n vrou van Blomnek wat in ’n stadium vir die man en sy vrou gewerk het.
Hy sê die verdagte het vermoedelik die oggend vroeg by die egpaar se huis opgedaag en glo geld geëis vir werk wat sy in die verlede vir die egpaar gedoen het.
Sy het die man toe glo met ‘n panga aangeval wat sy op die erf gevind het.
Die verdagte het gister (Woensdag, 13 Oktober) haar eerste verskyning in die Oudtshoorn Landdroshof gemaak. (Deur Stefan Skapie Goosen)