Verkoop van gestroopte vetplante op Facebook lei tot vonnis

Een van die verplantspesies wat op die sosiale media platvorm Facebook Marketplace verkoop is en gekonfiskeer is. Foto: Wildlife Crime Information Network

’n Paartjie van Oudtshoorn is gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan die onwettige stroop en verkoop van ’n bedreigde vetplantspesies op Facebook Marketplace.

André du Preez en Maria van Meyeren van Oudtshoorn is op 18 Mei 2026 in die Oudtshoorn landdroshof gevonnis nadat hulle op vyf aanklagte skuldig bevind is wat verband hou met die onwettige oes en verkoop van beskermde plante.

Die hof het hulle gevonnis tot ’n boete van R200 000 of 10 jaar gevangenisstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hulle nie gedurende dié tydperk weer aan soortgelyke misdrywe skuldig bevind word nie.

Die egpaar is op 30 Mei 2025 in hegtenis geneem tydens ’n gesamentlike operasie deur die Eenheid vir Veediefstal en Bedreigde Spesies (STU) van Worcester en Oudtshoorn, in samewerking met die Wildlife Crime Information Network (WCIN).

Tydens die operasie is op meer as 400 bedreigde vetplante, met ’n geskatte waarde van sowat R189 500, beslag gelê.

Onder die plante was beskermde spesies soos Conophytum truncatum en Haworthia truncata, wat na bewering in die Oudtshoorn-omgewing gestroop is.

Die vervolging is ingevolge die Ordonnansie op Natuur- en Omgewingsbewaring (Ordonnansie 19 van 1974) ingestel, wat beskerming aan inheemse plantspesies bied.

Leon Rossouw van die Wildlife Crime Information Network het die vonnis verwelkom en gesê dit stuur ’n duidelike boodskap dat die onwettige handel in beskermde plante ’n ernstige omge-wingsmisdaad is.

“Die toename in aanlyn en sosialemediaplatforms waar vekope gedoen word, het dit ongelukkig makliker gemaak vir gestroopte plante om geadverteer en verkoop te word,” het Rossouw gesê.

“Wat vir sommige soos ’n onskuldige stokperdjie of ’n versamelaarsaankoop lyk, dryf dikwels ’n ketting van omge-wingsmisdaad aan wat begin met die vernietiging van plante in hul natuurlike habitat.”

Volgens owerhede bly die onwettige handel in vetplante voortduur omdat die finansiële voordeel dikwels groter is as die risiko wat misdadigers loop.

Suid-Afrika, en veral die Klein Karoo, is wêreldbekend vir sy unieke verskeidenheid vetplantspesies. Baie van hierdie plante kom nêrens anders in die wêreld voor nie en is daarom uiters gesog onder versamelaars. Die onwettige verwydering van hierdie plante uit die natuur hou ’n groot bedreiging vir hul voortbestaan in.

Die suksesvolle vervolging word beskou as nog ’n belangrike stap in die stryd teen biodiversiteitsmisdaad en dien as ’n waarskuwing dat die onwettige handel in beskermde plante – ook deur middel van aanlyn platforms – nie ongestraf sal bly nie.