Op die spoor van ’n luiperd: Johan Lindeque sterf in Meiringspoort

Johan Lindeque in Meiringspoort, oomblikke voor hy Saterdag 20 Junie inmekaargesak het, en oorlede is. Foto verskaf

Johan Lindeque (66) van Oudtshoorn het Saterdag, 20 Junie 2026, in die hart van die asemrowende Meiringspoort gesterf – die natuurparadys waarvoor hy ’n diep liefde en waardering gehad het.

Johan en sy stapmaat, Anaska Geyer van De Rust, het die oggend omstreeks 11:00 vanaf Ray’s Coffee Shop in De Rust vertrek vir ’n uitstappie na Meiringspoort Waterval. Anaska vertel hoe Johan hom verlustig het die skouspelagtige na- tuurskoon van Meiringspoort – die indrukwekkende rotsformasies, die helder bergwater en die stilte wat dié wêreldbe-kende kloof kenmerk.

Verskeie foto’s en video’s is gedurende die uitstappie geneem terwyl hy die omgewing bewonder het.

“Johan het tydens die staptog ’n besondere rustigheid en kalmte uitgestraal,” sê Anaska. “Hy het baie oor geloof, die lewe en geestelike sake gesels. Johan het die natuur opreg waardeer en telkens stilgestaan om die prag van Mei-ringspoort in te neem. Dit was asof hy volkome tuis gevoel het tussen die berge en die stilte,” het sy gesê.

Op pad terug vanaf die waterval, omstreeks 16:50, naby Herrie se Klip, het hulle op ’n dierespoor afgekom. As ’n jarelange lid van die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging en ’n gekwalifiseerde spoorsnyer, het Johan die spoor onmiddellik as dié van ’n luiperd geïdentifiseer.

Volgens Anaska het hulle die spoor ’n ent gevolg, terwyl Johan sy kennis van die veld en wild met haar gedeel het.

“Ek het vir ’n oomblik weg van hom gekyk toe ek skielik ’n geluid hoor. Toe ek omdraai, het Johan op die grond gelê. Ek het dadelik na hom gegaan en besef iets is ernstig verkeerd. Ondanks my pogings was daar geen teken van lewe nie,” het sy vertel.

Sy het daarna inderhaas na Meijer’s Rust gegaan om hulp te ontbied.

Johan se vrou, Riana, is telefonies by hul woning in Oudts-hoorn van die tragedie in kennis gestel en is na die toneel geneem. Sy het tot 23:45 by haar man se liggaam gewag in die poort, tot nooddienste en die polisie hom uit die gebied kon verwyder.

Weens skade wat die onlangse vloede in Meiringspoort aangerig het, is die terrein onbegaanbaar vir voertuie, wat die reddingsoperasie verder bemoeilik het.

Vriende en familie beskryf Johan as ’n ware mensemens – iemand wat altyd bereid was om ander te help en wat gereeld ander se behoeftes bo sy eie gestel het. Hy was bekend vir sy eerlikheid, opregtheid en lojaliteit.

“Wat jy van Johan gesien het, was presies wie hy was,” het ’n familievriend, Christo Vermaak, gesê. “Hy het nooit voorgegee om iets anders te wees nie. Sy familie was sy grootste trots en vreugde.”

Hy het op 25 Maart vanjaar die geboorte van sy eerste kleinkind, Joandri, in Upington met groot opgewondenheid verwelkom. Hy kon nie uitgepraat raak oor die nuwe toevoe-ging tot die familie nie en het elke geleentheid aangegryp om oor sy kleindogter te praat.

Slegs twee weke voor sy afsterwe het Johan en Riana na Upington gereis om Riana se verjaardag saam met hul dogter, Mariska Lindeque, en skoonseun, Mathys Goosen, te vier.

Tydens dieselfde besoek het hul seun, Gerhardus, wat in Nederland woon, hulle verras deur ook daar aan te sluit.

Met hul terugkeer na Oudtshoorn het Johan met groot dankbaarheid en vreugde vertel van die kosbare tyd wat hy saam met sy kinders en kleinkind deurgebring het. Hy het reeds uitgesien na die familie se volgende besoek aan Upington, wat vir 17 Julie beplan was.

Johan was ook ’n lojale ondersteuner van verskeie organisasies en het die waardes van verantwoordbaarheid, gemeenskapsdiens, gesinswaardes en liefde vir sy land in sy daaglikse lewe uitgeleef.

’n Herdenkingsdiens ter viering van Johan se lewe vind Vrydag, 26 Junie 2026, om 14:00 vanuit die NG Kerk Kangovallei in Schoemanshoek plaas. Die diens sal gelei word deur dr. Charlie Dunn en ds. Bertine Malan, wat saam hulde sal bring aan ’n geliefde eggenoot, vader, oupa, vriend en natuurmens wie se lewe diep spore in die harte van baie mense gelaat het.

Johan word oorleef deur sy vrou, Riana, kinders Mariska en Gerhardus, hul eggenote, Mathys Goosen en Casper Potgieter, en kleinkind, Joandri.

Hy laat verder familie en ’n groot kring vriende agter. Sy nalatenskap leef voort in die herinneringe van almal wat die voorreg gehad het om hom te ken en lief te hê.

’n Skermgreep waar Johan kaalvoet deur die rivier stap waar dit oor die pad vloei. Video verskaf