Verkeersdepartement poog om agterstand in te haal

Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn se waarnemende munisipale bestuurder, Gerald de Jager, het vandeesweek inwoners aangemoedig om sover moontlik aanlyn aansoek te doen vir die hernuwing van voertuig­lisensies.

“Om nie in lang toue te wag nie, is die maklikste om aanlyn aansoek te doen. Dit neem ’n paar minute om dit aanlyn te doen en te betaal en mense kan hul voertuiglisensies binne drie dae daarna by die verkeersdepartement gaan afhaal sonder om in die tou te staan,” sê De Jager.

Aanlyn-aansoeke kan gedoen word op die webblad https://online.natis.gov.za/#/.

De Jager het Dinsdag (13 Oktober) die Oudtshoorn Verkeersdepartment besoek om vas te stel wat die munisipaliteit kan doen om dienslewering te verbeter en wagtye te verkort.

Hy het inwoners bedank vir hul geduld en verdraagsaamheid in die lang toue.

De Jager sê daar is tans slegs een van die drie kassiere wat kan werk aangesien twee in isolasie is as gevolg van Covid-19.

“Ons ervaar groot uitdagings ten opsigte van dienslewering.”

Volgens De Jager bedien die ver­keersde­par­tement tans sowat 270 mense per dag vir motorregistrasies, bestuur-ders­lisensies en by die voertuigtoetsstasie. Waar daar in die verlede sowat 800 persone per maand bedien is, is daar in Julie 2020 sowat 2 286 motorregistrasies en sowat 1 576 bestuurders-lisensies hanteer. Dit het in Augustus 2020 vermeerder na 5 119 motorregistrasies en 3 078 bestuurderslisensies, en in September 2020 na 6 693 motorregi­strasies en 1 559 bestuurderslisensies.

Hy sê ’n ander uitdaging is motorhandelaars wat groot getalle voertuie het om te registreer. Die munisipaliteit is tans besig om met die handelaars te onderhandel om spesiale tye oop te maak, meestal naweke. Ander opsies om die agterstand in te haal word ook tans ondersoek.

Die Groter Oudtshoorn se burgemees­ter, Chris Macpherson, sê mense moet ook in gedagte hou dat daar ingevolge Covid-19-regulasies ’n beperking is op die aantal mense wat binne ’n sekere grootte vertrek mag werk.

Alle werknemers mag dus dikwels nie gelyk by sekere besighede en instansies ingespan word nie. Dit geld ook vir die Verkeersafdeling.
Vir die uitreik van voertuiglisensies mag die munisipaliteit slegs die nasionaal-gekoppelde Natis-stelsel gebruik.

Volgens Macpherson is drie perso­neellede van die Verkeersafdeling op­gelei om die stelsel te gebruik, maar mag daar tans slegs twee van hulle as gevolg van die grootte van hul werkplek gelyk werk.

Voorts sluit die stelsel drieuur landwyd. Dit is waarom mense in ’n stadium vroegmiddag versoek word om die volgende dag terug te keer.

Ten opsigte van mense van ander dorpe wat eerder op Oudtshoorn kom toustaan omdat die toue by hul Verkeersdepartemente nog langer is, sê Macpherson dat inwoners dit sal moet aanvaar omdat hulle ingevolge wetgewing niemand mag verbied om daar te kom tou­staan nie.

Be the first to comment on "Verkeersdepartement poog om agterstand in te haal"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*