Hooggeregshof weier aansoek van voormalige wynhuisbestuurder

VONNISVERRIGTINGE in die bedrogsaak teen die voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne op Oudtshoorn, Johan Brits, kan nou in die Oudts­hoorn Streekhof voortgesit word nadat die Kaapse Hooggeregshof sy hersieningsaansoek verlede week geweier het.

Brits is reeds vyf jaar gelede deur streeklanddros Neels Nortje op 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die Wet op Drankprodukte skuldig bevind.

Hy is daaraan skuldig bevind dat hy bedrog gepleeg het deur ’n vreemde produk, bekend as “ale”, met wyn te vermeng en dit onder ou wynetikette te bemark, asook dat hy seëls wat deur ’n beampte van die departement landbou aan wyntenks aangebring is, gebreek het.

Brits het in sy hersieningsaansoek aangevoer dat die landdros in sy bevinding gefouteer het.

Volgens hom het die streekhof nie ene dr Lalu se getuienis vir die regverdige beregtiging van die saak aangehoor alvorens uitspraak gelewer is nie.

Hy het aangevoer dat dit ’n growwe onreëlmatigheid in die verrigtinge was.
Hy het voorts aangevoer dat ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toegelaat en toelaatbare of bevoegde getuienis verwerp is.

Regter Elizabeth Baartman het verlede week beslis dat landdros Nortje nie fouteer het nie en Brits ’n billike verhoor gehad het.

Die saak is gevolglik terugverwys na die Oudts­hoorn Streekhof vir die afhandeling van vonnisverrigtinge.

Die bevinding is deur regter Derek Wille ondersteun.

Adv Louis van Niekerk, senior advokaat in die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV), is die aanklaer in die saak, terwyl adv

Marthinus Barnard namens Brits verskyn.

’n Datum vir vonnisverrigtinge in die Oudts­hoorn Streekhof is nog nie bepaal nie. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Hooggeregshof weier aansoek van voormalige wynhuisbestuurder"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*