’N VIERJARIGE kleuter se liggaam is Dinsdag 13 Oktober deur die Oudtshoorn Brandweer in ’n uitgebrande kamer in ’n huis in Thabo Mbeki Square in Bongolethu gevind.
Dit was die enigste kamer in die huis wat omstreeks 19:55 die dag deur vlamme vernietig is.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was die Oudtshoorn Brandweer reeds op die toneel toe die polisie ontbied is.
“Die eienaar van die huis het aan die polisie gesê dat almal, toe hulle uitvind dat die huis brand, na buite gehardloop en om hulp geroep het,” het Michaels gesê.
Volgens haar sal ’n geregtelike nadoodse ondersoek in verband met die seuntjie se dood gedoen word. Die seuntjie se naam is nie bekend gemaak nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Kleuter sterf in huisbrand
