Fietsryer sterf in botsing

Die botsingstoneel Saterdag waarin ’n fietsryer, Francois Bruintjies, gesterf het. Regs is die fiets waarop Bruintjies gery het. Foto’s: Schalk le Roux

’N INWONER van Buffelsdrift buite Oudtshoorn, Francois Bruintjies (73), het Saterdagoggend tragies in die omgewing waar hy gewoon het gesterf toe sy fiets op die Kango Grotte-pad voor ’n motor beland het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het getuies op die toneel aangedui dat Bruintjies omstreeks 10:10 met sy fiets van ’n sypad af teen ’n afdraand in die Kango Grotte-pad ingery het. ’n Eerste voertuig het hom rakelings gemis waarna hy voor die Toyota Rav ingery het.

Die bestuurder van die Rav, ook 73 jaar oud, was van Oudtshoorn af op pad na Schoemanshoek.

Te oordeel aan die ongelukstoneel het die bestuur­der na die botsing beheer oor die Rav verloor waarna dit deur ’n draadheining gebars het, later weer deur die heining terug is na die pad en toe teen ’n betonblok tot stilstand gekom het, sowat 200 meter van waar die botsing plaasgevind het.

Dit wil voorkom of Bruintjies met die impak van die botsing teen die voorruit van die voertuig beland het. Sy liggaam het op die ongelukstoneel langs die Rav onder ’n laken gelê.

Bedroefde familielede van hom was op die toneel.

Die bestuurder van die voertuig, ’n vrou van Oudtshoorn, is na die ongeluk in die Me­diclinic Klein Karoo opgeneem, maar volgens die be-
stuurder, Hannes Stegmann, Sondag ontslaan.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Fietsryer sterf in botsing"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*