Nefies verdrink in dam buite dorp

Die twee seuns wat Sondag naby Dysselsdorp verdrink het, Percywill Willemse (links,13) en Jayden Tika (10).

’N FAMILIE van Dysselsdorp is in rou gedompel nadat twee nefies Sondag (11 Oktober) in ’n dam sowat 3 km van die dorp verdrink het.

Die seuns, Percywill Willemse (13) en Jayden Tika (10), se lyke is Sondagmiddag deur polisie­duikers van Knysna uit die dam gehaal.

Volgens kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, het Percywill en Jayden die dag in die Askamp-dam in die Waaikraal-omgewing gaan swem.

’n Maat wat saamgegaan het, het vir hulle op die wal gewag. Toe die seuns egter uit die dam wou klim, het die gladde, waterdigte plastieklaag waarmee dit uitgevoer is, hulle laat gly en verhinder om uit te kom.

Hulle maat het gehardloop om hulp te gaan soek, maar met sy terugkoms gesien dat die twee seuns reeds onder die water verdwyn het.
Die hulp van die polisie is ingeroep waarna die duikeenheid van Knysna ontbied is.

’n Kranslegging vir Percywill en Jayden vind vandag (Donderdag) om 14:30 by die dam plaas. Die dra van ’n masker en die nakoming van Covid-19-protokol is verpligtend vir almal wat dit bywoon.

Die St Konrad Primêre Skool waar Percywill skoolgegaan het, het gister ook ’n troosdiens gehou.

Kapt Christopher Spies van die Suid-Kaap Po­lisie het aangedui dat die polisie tans besig is met ’n nadoodse ondersoek. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Nefies verdrink in dam buite dorp"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*