Oudtshoorniet se liefdesdaad

Lilly Harmse (in pienk agter in die middel) by die groep mense wat sy as ’n liefdesdaad op haar 71ste verjaarsdag onthaal het. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorniet en oud-onderwy­seres Lilly Harmse het Maandag haar 71ste verjaardag gevier deur vriende en kennisse wat sedert verlede jaar ’n geliefde aan die dood afgestaan het, by Enchanted Coffee op Oudtshoorn te ont­haal.

Sy sê sy het dit gedoen uit dank­baarheid vir haar lewe van 71 jaar en ook om ander by te staan om die eensaamheid te verwerk.

Sy wil ook hê mense wat geliefdes verloor het, moet kan besef daar is ander mense wat omgee en wat aan hulle dink.

Harmse sê sy is geïnspireer deur eerw Leon Klate se boodskap tydens Jane Coetzee se onlangse begrafnis op die dorp, waartydens hy verwys het na hoe sy altyd daar was om haar man, haar kinders, haar kleinkinders en die ge­meenskap met haar liefde vir mense te omhels (“embrace”).

“Op haar sterfdag het sy haar arms oopgegooi en haar Skepper omhels en het sy ons wat agterbly, uitgedaag om voort te gaan om ander met liefde te omhels.

“Ons moet haar nalatenskap laat voortleef en mekaar met liefde omhels,” het sy gesê.

Ds Andrew Oliphant van die VGK het die geleentheid met ’n boodskap van hoop geopen en verwys na sy vrou wat 18 jaar gelede gesterf het.

Japie Coetzee, een van die gaste, het aan Die Hoorn gesê Harmse is ’n omgeemens wat altyd ’n verskil wil maak. “Ons is almal op dieselfde see in verskillende bootjies. Die winde wil net die bootjies in verskillende rigtings dryf, maar ons moet almal ons oë hou op dieselfde horison waar ons geliefdes vir ons met oop arms wag om ons weer te omhels.”