Man gesoek wat brand stig op Potgieter-plaas

DIE waarde van net die voerbale wat in ’n brand Sondag in die vroeë oggendure in drie van sy voer-skure vernietig is, is meer as R1,8 miljoen, sê Joey Potgieter, ’n bekende boer van die Welbedacht-om­gewing tussen Oudtshoorn en Calitzdorp en voorsitter van Agri Klein Karoo. Die skade aan die strukture self is nog nie bepaal nie.

Die Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n saak van brandstigting nadat drie voerskure op die plaas waar Potgieter en sy broer Dirkie boer, die nag binne 45 minute al drie begin brand het. Die een voerskuur is sowat 1,5 km van die ander twee ge­leë. ’n Verdagte man wat verbind word met vorige inbrake in die omgewing, is ook die nag deur talle getuies in die omgewing gesien.

Dié man is glo onlangs op parool vrygelaat na­dat pres Cyril Rampahosa parool vir duisende ge­vangenes gemagtig het om die verspreiding van Covid-19 in tronke te beperk.

Volgens Potgieter het die eerste skuur net ná middernag begin brand. Die sektorbevelvoerder van plase om Oudtshoorn, kapt Johan Nel, was in daardie stadium besig met ’n roetine-patrollie in die omgewing en het Potgieter geskakel toe hy die brand sien.

Sowat 45 minute later terwyl hulle besig was by die brandende skuur, het die twee ander skure begin brand.

Daar is by Potgieter geen twyfel dat dit kwaadwillge brandstigting was nie. Hy sê ook hulle is 99% seker wie die oortreder is. “Daar kom al hoe meer mense na vore wat hom in die nabyheid van die plekke waar die brande gestig is, gesien het.”

Die man, wat in die omgewing bekend is, is ook die nag gesien toe hy vermoedelik probeer inbreek het en gekap het aan slotte by buitegeboue.

Volgens Potgieter verbind vingerafdrukke hom aan drie onlangse inbrake, ook met ’n inbraak ’n paar weke gelede by sy broer se huis.

Die Oudtshoorn Brandweer is ontbied, en kon help keer dat die brand nie na die voeraanleg versprei nie. Hulle kon egter nie die bale, wat baie droog was en daarom vinnig vlamgevat het, red nie.

• Die Polisie versoek dat enigiemand met inlig­ting die ondersoekbeampte, ao Tobie Alberts, by die Oudtshoorn-speurders kontak by 044 274 4400 of Crime Stop by 08600 10111.

• Die DA het intussen die brandstigting op die plaas by die provinsiale polisiekommissaris gerapporteer. Volgens ’n verklaring van die DA se ska­du-minister van polisie, Okkie Terblanche, Dins­dag het die Polisie misluk deur nie op te tree ná klagtes van Potgieter oor verdagte optrede in die omge­wing nie. “Dit is uiters kommerwekkend dat, hoewel die boer die SAPS in kennis gestel het, hulle eenvoudig nie die nodige stappe gedoen het nie.

As die nodige ondersoek gedoen en behoorlike voorkomende maatreëls getref is ten opsigte van misdaadintelligensie, sou dit die brandstigting kon voorkom het,” sê Terblanche. (Deur Liesel le Roux)