Vryburgers lok 86 spelers

DIE Oudtshoorn Vryburgers se jaarlikse gholfdag het Saterdag 17 Oktober 86 spelers na die Oudtshoorn Gholfbaan gelok om deel te neem aan die “American Scramble”-formaatkompetisie.

Om 12:00 het ywerige gholfspelers van regoor Oudtshoorn begin afslaan met ’n “shotgun start”, met die opbrengs van die dag wat aangewend sal word vir die Vryburgers se nasionale projek Kos vir Kinders, asook vir die Oudtshoorn Vryburgers se Lighuisprojek om leerders smiddae ná skool te ondersteun.

Warren Human en Allistair Kie-wiets het die dag gewen met ’n telling van 45.

In die tweede plek was Adrian Cupido en Pieter-George Mooney op ’n telling van 44, en in derde plek met ’n telling van 43 was Salie en Hannes Oosthuizen.

Salie het ook naaste aan die pen geslaan op die twaalfde putjie. Ander spelers wat ook naaste aan die pen gekom het was Deon van Dyk (derde putjie), Christo Odendaal (agtste) en Piet Swanepoel (vyftiende).

Die langste dryf van die dag is deur Louis Fourie Jnr op die sewende putjie behaal.