’N VERKEERSBEAMPTE van Oudtshoorn wat van korrupsie aangekla word, se verhoor sal as gevolg van ’n vol hofprogram eers op 23 Januarie begin.
Die saak moes Vrydag in die streekhof uitgestel word omdat die nuwe regsverteenwoordiger van die verkeersbeampte, Marshall Wagenaar, nog nie al die transkripsies ontvang het nie.
Wagenaar het na bewering in April 2017 onderskeidelik R2 500 en R3 500 van twee broers, Johannes en Nicolas Mulder, ontvang vir vroeër datums om hul swaarvoertuiglisensies te bekom.
Die hof het beslis dat verklarings van Johannes Mulder wat tans in die buiteland is, as hoorsê aanvaar word en daar met die verhoor voortgegaan kan word.
In die verklarings gee Mulder ’n breedvoerige beskrywing van hoe hy by die beskuldigde uitgekom het en hom gevra het hoedat hy hom kan help om ’n vroeër datum te kry vir die vernuwing van sy voertuiglisensie wat hy broodnodig gehad het.
Volgens Mulder het Wagenaar hom R2 500 gevra, maar het hy nooit ’n vroeër datum gekry nie en na verskeie onsuksesvolle telefoon-oproepe na Wagenaar besluit om na die polisie te gaan.
Hy het nooit sy R2 500 teruggekry nie. (Deur Garnett Wicomb)