
IN 1947 het ’n groot eer ’n toé sewejarige dogtertjie van Graaff-Reinet te beurt geval. Vandag op die ouderdom van 82 vertel Margaret Potgieter (Nolte) aan Die Hoorn, oor haar ervaring toe sy as een van drie meisies gekies was om aan die koningin van Engeland, daardie tyd prinses Elizabeth, blomme te gee.
Dit het deel uitgemaak van die koninklike toer in Suid-Afrika, toe koning George die 6de, sy vrou koningin Elizabeth, saam met hul twee dogters, prinses Elizabeth (later koningin Elizabeth die 2de) en prinses Margaret van Engeland, die land besoek het.
“Ek het baie lang hare gehad, en my ma het nog die aand voor die tyd my hare in bruin papier omgedraai, sodat dit krulle sal maak,” onthou Potgieter.
Sy het ook ’n nuwe rok gekry, spesiaal vir die okkasie, wat met die hand gemaak was.
“Die rokkies moes almal wit gewees het en myne het kant gehad van voor tot agter met valletjies aan die onderkant,”
Daar was ook fyn handgeborduurde rooi rosies aan die sykante van die rokkie.
Potgieter moes aan prinses Elizabeth haar ruiker oorhandig. “Ek was maar ’n bekkige dogtertjie gewees, en het besluit ek wil ook vir prinses Margaret blomme gee, omdat ons naamgenote was,” vertel sy. En sy het wraggies vir haar ook blomme gegee.
Potgieter was ’n leerder van die destydse Volkskool op Graaff-Reinet.
Sy vertel verder dat dit ’n lekker tyd van die jaar was, glad nie warm nie en die ruikers se blomme het baie mooi gehou. “Die blomme was pragtig.”
Haar ouers het hul eie besigheid gehad met haar pa wat mansklere gemaak het en haar ma wat voltyds in die winkel gewerk het.
Potgieter het 53 jaar gelede Oudtshoorn toe getrek en was ’n musiekonderwyser by die Hoërskool Oudtshoorn. Sy het haar man, Manie Potgieter – ’n boer van die plaas Buffelskloof, hier ontmoet, en saam het hulle ses dogters gehad. Potgieter se man is sowat vyf jaar gelede oorlede.
Sy woon tans in die Milleniumpark Aftreeoord op Oudtshoorn. (Deur Angelique Erasmus)