Verhoor van Rabie-egpaar sal weer in November hervat word

DIE saak teen ’n egpaar van Oudtshoorn wat hulle na bewering met onwettige staatstenders verryk het, is in die Oudtshoorn Streekhof tot 8 en 9 November uitgestel omdat hul nuwe regsverteen­woordiger nog nie die volle transkripsie van die verhoor tot dusver ontvang het nie.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn proefplaas, sy vrou, Johanna Rabie, se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders.

Miljoene rande is by die saak betrokke.

Hul nuwe regsverteenwoordiger is Henry van Breda.

Van Breda het die hof om uitstel gevra en streeklanddros Daniel Boks het die saak vir twee dae se verhoor uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)