Flesse vol sopbestanddele vir Huis Triomf geskenk

Die bestuurder van Huis Triomf, Crystal Muller (heel links) hier saam met Magda Marais (middel, bemarker van SFM Streekradio en Virlynne Campher (maatskaplike werker by Huis Triomf) met flesse sopmengsel wat deur SFM se “sop-in-’n-fles”-projek aan dié kinderhuis op Oudtshoorn geskenk is. Volgens Marais is die projek reeds drie weke aan die gang, en vul mense leë koffiebottels met onder meer rooi en bruin lensies, erte, gort, soppoeier en beesvleisaftreksel. Met die inhoud van een van die kleiner flesse, waarvan Huis Triomf 24 ontvang het, kan volgens Marais drie liter sop gemaak word, terwyl met die inhoud van die groot flesse, waarvan die huis twee ontvang het, minstens sewe liter sop gemaak kan word. Die projek is deel van SFM se jaarlikse liefdadigheidsprojekte. Inwoners is welkom om betrokke te raak of bestanddele te skenk (skakel 044 272 5000). Muller het Marais bedank vir die bydrae, en gesê al sluit Huis Triomf binnekort sy deure, verwelkom die huis steeds skenkings Foto: Stefan Skapie Goosen