Briewe van lesers

Ons kinders

As ek gebeure in ons dorp, oor ons hele land en helaas oor die wye wêreld heen so gadeslaan, kry ek die ontnugterende indruk dat ons kinders nou handels-artikels geword het.

Hoekom sê ek so?

Eerstens omdat ouerpare, maar ook dikwels en indien nie meer gereeld nie, ongetroude vroue (lees ook skoolmeisies) spesifiek swanger raak ter wille van die ongehoorde kindertoelaag wat die owerhede so kwistig uitdeel.

Ek beskou dit as ’n besigheidstransaksie. Mense sal my hiervoor wil kruisig, maar dit is die realiteit. Ek glo nie jy kan in elk geval ’n kind met die geld wat uitbetaal word, grootmaak nie – miskien nog vir die eerste jaar of uiters twee. Die klaaglike ironie is dat die toelaag dikwels nie by die kind uitkom nie, maar in ’n volwassene se keel verdwyn.

Tweedens word die stomme onskuldige kind verder gebruik as verskoning om te bedel “vir die kindertjies wat dan so honger by die huis is”. Hoe gerieflik.

Derdens beland die kinders later op straat as lastige bedelaartjies en gomsnuiwers. Dis hier waar hulle lewens as bendelede begin.

Die laaste en mees onmenslike “besigheid” is waar kinders die “voor-werp” word van “human trafficking”, gelukkig normaalweg nie, maar soms tog met desperate ouers se toestemming.

Wanneer gaan die regering hul onvolhoubare aksie van kindertoelae geleidelik uitfasseer en dan binne ’n afsienbare tydperk ervaar hoe dinge in hul plek begin val ten opsigte van skole, gesondheidsorg, behuising, werkloosheid, aanvraag na water (wat reeds ’n onrusbarende groot probleem is, en nog groter gaan word) en later die algemene en selfs algehele verbetering van lewensstandaard op alle vlakke.

Dink bietjie nugter en rustig hieroor voordat iemand my wil stenig. Dit is die enigste uitweg om armoede te stop en behoort nie ’n leeftyd te neem om te realiseer nie.
– Pieter, Oudtshoorn

Motors brul na 23:00 in dorp se strate

Dit is net ná 23:00 Saterdagaand en die motors brul steeds in Oudtshoorn se strate. Ek vermoed dis straatrenne.
Nou vra ek, wat help dit die president vra gereeld en mooi dat ons hande moet was, maskers moet dra, sosiale afstand moet handhaaf en drankverkope beperk? Dit kan mos nie regdenkende nugter mense wees wat so optree nie.
Waar is die wetstoepassers? Ek het gisteraand die polisie gebel om soortgelyke gedrag te rapporteer. Ek kan nie aanvaar dat die SAPD nie bewus kan wees van sulke wangedrag nie.
Hoe diep moet ons land nog in die modder van wetteloosheid afsak? Wanneer gaan die owerheid se oë oopgaan? Seker wanneer dit te laat is.
Dit is reeds te laat!
– Pieter, Oudtshoorn

Reaksie op brief:

Die Hoorn het die brief oor straatrenne na die plaaslike SAPD en Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur vir reaksie.
• Plaaslike polisiekantore mag ongelukkig nie tydens die pandemie op navrae oor Covid-19-verwante aange­leenthede reageer nie. Die Hoorn is egter bewus daarvan dat die Oudts­hoorn Polisie aandag skenk aan klagtes oor straatrenne.

• Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het soos volg op die skrywer se navrae gereageer:
Ons probeer ons bes om wet en orde in die dorp te handhaaf, maar kan dit nie alleen doen nie en het die hulp van die polisie nodig met die mannekrag tot ons beskikking. Ons lewer nie ’n 24-uur-diens nie, maar het skofte aangepas om sover moontlik dekking te verleen. Ons beamptes spandeer elke Saterdag baie tyd op begrafnisbegeleidings en moet die beskikbare mannekrag be­stuur. Die begrafnisse verg verskriklik baie tyd.

Neem asb in ag dat die wetstoepassingsbeamptes basiese munisipale verordeninge moet toepas, maar dat hulle in elk geval die verkeersbeamptes en polisie help en ondersteun.