LADISMITH is die laaste tyd geruk deur die dood van drie bekende vaderfigure in die gemeenskap.
’n Voormalige waarnemende hoof van Ladismith Korrektiewe Dienste, Dolf Hartman, het onlangs aan Covid-verwante komplikasies beswyk. Hartman was ’n afgetrede korrektiewe beampte en voor sy siekbed blakend gesond.
’n Oud-kollega, Eldene le Roux, sê Hartman was haar mentor en sy sal hom altyd onthou as ’n storieverteller van formaat. Hartman word oorleef deur sy vrou, Myrtle, dogter Nadine en twee seuns.
Nog ’n slagoffer van Covid-19 was lt kol Francois Linde wat op 30 Julie gesterf het. In die laaste week van Julie het sy eggenoot, Dawn, nog gesê dat hoewel Linde baie siek was, hulle glo hy sal herstel.
’n Kollega, Bennet de Wee, skryf op Facebook dat Linde “…altyd in my geglo het en kon ek kolonel in die nag wakker bel vir advies rondom ’n saak en het hy gehelp. So ’n tipe mens was kolonel.”
Linde se dogter, Franzel, skryf op haar beurt op Facebook: “Ons harte bloei vanaand, maar ons het vrede dat Pa die wedloop op aarde voltooi het. Dankie dat ons Jesus in pa se hart en pa-wees kon sien.”
Die sakeman Henry Flink is op 31 Julie oorlede. Sy seun, Raymondo, skryf dat hy sy pa vir drie weke nie kon sien nie en nie met hom kon praat nie. “Dit was vir my baie hartseer, die nuus van jou afsterwe het my gebreek.”
Flink het onder andere gesorg dat die Ladismith Rugbyklub weer ’n tweede lewe kry en het die klub ruim geborg. Die Icosa-leier, Jeffrey Donson, het Flink as ’n gemeenskapsmens by uitstek bestempel.
Hartman is reeds ter ruste gelê, maar begrafnisreëlings vir Flink en Linde, was teen druktyd nog nie bekend nie. (Deur Deon Meyer)
Covid-19 eis verskeie bekende inwoners van Ladismith
Van links is Dolf Hartman, Francois Linde en Henry Flink. Foto’s verskaf