Venters al 67 jaar getroud!

Thinus en Rika Venter van Oudtshoorn wat op 6 Junie 67 jaar getroud sal wees! (Foto verskaf.)

HULLE is so dankbaar en geseënd dat hulle in hul herfsjare steeds saam kan wees en Maandag 6 Junie hul 67ste huweliksherdenking kan vier, sê Rika Venter (87) en Thinus Venter (94) van Millenniumpark op Oudtshoorn.

Rika vertel hulle het 30 maande gelede met die Covid-inperkings en as gevolg van beserings na Milleniumpark verskuif waar daar ook vir hulle versorging is.

Venter en haar man, Thinus, het in 2012 van George, waar hulle die eienaars van die Artistico Kunsgalery was, na Oudtshoorn verhuis.

Rika is steeds ’n erelid is van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) en die South African Council of Business Women (SACBW).

“Is ons van die oudste getroude pare?” vra Rika. “Dit is ’n wonderwerk. Ek kan dit nie glo nie.

Hoeveel mense is so geseënd? Dankie, Here, dat ons nie van mekaar af weggegroei het nie maar nader aan mekaar.. Ons het n leeftyd van ondervindinge om oor te praat…”