DIE noodsaaklikheid daarvan om nie net jou troeteldiere – katte in hierdie geval – in te ent nie, maar ook om hulle te steriliseer en sodoende ’n oorbevolking van rondloper- en probleemdiere te voorkom, is weer vandeesweek in die kollig geplaas toe Lee-Ann van Sittert van Oudtshoorn se Cat Hotel moes inspring saam met vrywilligers om rondloperkatte te vang.
Hierdie is nie die eerste “kattevang-veldtog” wat Van Sittert en haar helpers aanpak nie.
Hulle moes in Mei 2021 by dieselfde huis ingryp toe rondloperkatte ’n groot probleem in die omgewing geraak het, en inwoners van die spesifieke omgewing wreed begin optree het deur katte òf te vergifting, òf op grusame maniere dood te maak.
Die Cat Hotel fokus op die redding en aanneming van weggooi- of rondloper-katte. Twee gevalle het haar veral geskok.
Die eerste het in Aschmanstraat gebeur waar ’n rondloperkat met ’n klip oor die kop doodgeslaan is.
Die tweede het in Langenhovenweg plaasgevind waar ’n kat – wat in sy eienaar se agterplaas was – met ’n windbuks geskiet en beseer is.
Maandag (30 Mei) was weer Asch-manstraat se beurt waar ’n inwoner vermoedelik bydra tot die groot aantal rondloperkatte. Dit is dieselfde persoon by wie se huis verlede jaar se kattevang plaasgevind het.
Die huiseienaar voer na bewering die diere gereeld, wat hulle in nog groter getalle na die woonbuurt lok. Die geval is volgens Van Sittert al telkemale met die spesifieke persoon bespreek.
“Ek sal eerder self die katte vang en hulle probeer red, want geen dier verdien so ’n pynvolle of grusame dood nie.
“Die probleem is dat die katte begin aanteel – in baie gevalle vind inteling plaas, wat siektes en fisieke gebrekke kan veroorsaak. Dan moet ek die arme kat vashou terwyl hy of sy deur die veearts uitgesit word, want ongelukkig wil niemand so ’n kat hê nie.
“Mense móét asseblief hul katte steriliseer om hierdie tipe voorvalle te voor-kom.
“Ons het selfs dooie katte in hierdie huis se tuin gevind,” vertel sy, duidelik ontsteld en gefrustreer.
Haar pleidooi aan die inwoners van Oudtshoorn is om eers vir hulp met die probleem- of rondloperkatte te vra, voordat hulle self ingryp en die diere seermaak.
• Kontak Van Sittert vir die verwydering van rondloperkatte op Oudtshoorn by sel 083 334 0172 en Magda Davel by die Oudtshoorn Diereskut by tel 044 203 3927. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Steriliseer jou katte, asseblief!
Tydens ’n vorige kattevang-sessie in Aschmanstraat, Oudtshoorn was van links Ryan Geduld; Magda Davel van die Oudtshoorn Diereskut; Kylie Gielink, vrywilliger; en Lee-Ann van Sittert van die Cat Hotel.
Foto: Stefan Skapie Goosen