BON Hotels bestuur voortaan Queen’s Hotel

Foto verskaf

DIE Queen’s Hotel op Oudtshoorn het pas ’n bestuursooreenkoms met BON Hotels onderteken ingevolge waarvan die span van BON Hotels vanaf 1 Junie die bestuur, administrasie en bemarking van dié bekende hotel op Oudtshoorn oorgeneem het.

BON Hotels bestuur hotelle, lodges en oorde dwarsoor Suid-Afrika, Swaziland, Nigerië, Ghana en Ethiopië.

Die Queen’s Hotel, wat ook twee restaurante insluit, is bekend vir sy ouwêreldse sjarme en Klein Karoo-gasvryheid, en het ’n lojale kliëntebasis van internasionale en plaaslike besoekers.

“Dit is ’n nuwe en opwindende hoofstuk vir die groep,” sê die uit­voerende hoof en stigter van BON Hotels, Guy Stehlik.

“Ons sien uit na ’n baie suksesvolle vennootskap met die eienaars en die Queen’s Hotel-span. Dié hotel is ’n geliefde baken op Oudtshoorn in die hartjie van die Klein Karoo en ’n juweel van die Tuinroete.

“Daar is baie om te doen en te verken vir oud en jonk op Oudtshoorn. Dié hotel wat in 1880 gebou en onlangs gerestoureer is, se ryk geskiedenis en ligging maak dit ’n baie opwindende toevoeging vir BON.”

Enkele van die Suid-Afrikaanse hotelle wat deur BON Hotels bestuur word, is die Elephant Lake Hotel, die St Lucia Lodge, die Royal Palm Hotel and Apartments in KwaZulu-Natal, Buckler’s Africa Lodge asook Shishangeni in Mpumalanga, en die Protea Hotel Durbanville en Cape Diamond Boutique Hotel in Kaapstad.