Vastrappers presteer
Sara van Rooi, afrigter van die Prins Albert Vastrappers en bekroonde liedjieskrywer, en die Prins Albert Vastrapper-orkes. Sara se liedjie, Swartri-vier se olywe, is by die tweede 2018-Rieldans-streeksfees op De Doorns aangewys as Liedjie van die Dag. Van Rooi en Denise Ohlson het die Vastrappers in 2014 begin. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
DIE Prins Albert Vastrappers – ’n plaaslike rieldansgroep wat vier jaar gelede gestig is – het pas byna skoonskip gemaak op die tweede 2018-Rieldans-streeksfees op De Doorns. Dit is een van die streeksuitdunne van die jaarlikse nasionale ATKV-Rieldanskompetisie waarvan die finaal in Desember in die Paarl plaasvind.
Van die agt bekers wat die 22 deelnemende spanne in verskillende kategorieë kon wen, het die Vastrappers ses huis toe gebring! Dit is vir: o.14-topspan (juniors), een van die topvyf-o.20-spanne (seniors) uit tien, die beste o.14-danser (Zannadann van Rooi), die beste o.14-danser (Sharlene Fortuin), die beste oorspronklik gekomponeerde liedjie (Sara van Rooi) asook die beste rieldansmusikante.
Die o.14- en o.20-spanne van Die Prins Albert Vastrappers het deurgedring na die kwarteindronde op 20 Augustus in Vredendal.
• Mense wat afvallappies kan skenk waarvan Vastrapper-ma’s optreebroeke vir die seuns en musikante maak, kan Van Rooi bel by 073 091 3570, of skryf aan karoostyl@intekom.co.za