Die paaie om Oudtshoorn

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

HOEWEL bouwerk aan paaie tussen dorpe en stede erg ontwrigtend en dikwels frustrerend vir padgebruikers is, hou dit ook die belofte van makliker, vinniger en veiliger vervoer in die toekoms.

Dit is goeie nuus dat die opgrade­-ring van ’n gedeelte van die pad tussen Oudtshoorn en George deel is van die beplanning van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer vir 2018/2019.

Dit is ook veral goeie nuus dat daar op plekke van dié sowat 16 km-pad wat opgegradeer gaan word, verbygaanlane gebou gaan word.

Dié pad met sy baie draaie en opdraandes én swaarvoertuie wat dit gebruik, is juis berug vir voertuie wat onverskillig om blinde draaie en hoog­tes en oor sperstrepe verbyjaag.

Mag die res van die pad tot in Oudtshoorn – waar voertuie soms rakelings naby aan mekaar om die draaie moet ry – ook veiliger en breër gemaak word.

Almal wat die Oudtshoorn/ George-pad pad gebruik, sal baat by dié opgradering en ’n veiliger pad.

Dieselfde kan gesê word van die Oudtshoorn/Dysselsdorp/De Rust-pad waar die gesloer met die bou van die pad sedert vroeg verlede jaar groot frustrasie en ongerief veroorsaak het.

Gelukkig sal bouwerk hier hopelik binne die volgende weke hervat en nuwe hoop bring vir padgebruikers.

Goeie paaie van die kus se kant af en ook vanuit die noorde maak   Oudts­hoorn – én die res van die Klein Karoo – meer toeganklik vir besoe­-kers van elders in Suid-Afrika en ook tussen inwoners van buurdorpe.

Groter toeganklikheid en paaie waar­op mense makliker en veiliger bestuur, kan net tot voordeel wees van die ekonomie en toerisme.