DIE lang uitgerekte saak teen drie mans wat tereg staan op sewe aanklagte van roof met verswarende omstandighede, voertuigdiefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie is uiteindelik in die Oudtshoorn Streekhof vir die slotargumente van die staat uitgestel.
Die drie verdagtes, Zuka Martin van Cradock, Liberty Mpala van Kuilsrivier en Melavine Simakade van Langa pleit onskuldig op al die aanklagte.
Die rooftog het op Vrydag 23 Junie 2017 by die Twaksak Supermark op Van Wyksdorp plaasgevind toe gewapende rowers vir George van Tonder met ’n vuurwapen oor sy kop geslaan, vasgebind en van meer as R260 000 beroof en met sy bakkie en hul eie minibus weggejaag het.
Die meeste van die geld is teruggevind en twee van die vermeende rowers het in ’n ongeluk op die Laingsburg-pad gesterf.
Mpala se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, vra vir sy vryspraak terwyl sy twee medebeskuldigdes sekere erkennings gemaak en daarop skuldig gepleit het.
Volgens Metembo was Mpala nie by die beplanning of die uitvoering van die rooftog betrokke nie.
Hy is ’n taxi-eienaar wat gehuur is om mense vanaf Kaapstad na Van Wyksdorp te vervoer en volgens getuienis het die mans die supermark soos gewone klante binne gegaan en weer uitgekom.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir die slotbetoë van die staatsaanklaer, Willem Vister, tot 27 Julie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)