Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn Chris Macpherson, saam met nog ’n Oudtshoorniet, Mariëtte Laing, net nadat hulle hul eerste Covid-19-inentings verlede Donderdag by die Oudtshoorn Hospitaal ontvang het. Foto verskaf
DIE Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het verlede Donderdag aangesluit by die net meer as 1 000 inwoners van 60 jaar en ouer wat al by die Oudtshoorn Hospitaal hul eerste Covid-19-inenting ontvang het.
Dit gaan voor die wind met die inentings, het Helen Human, die Departement Gesondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik, gesê.
Volgens haar is nog geen negatiewe terugvoer en geen klagtes ontvang nie.
Macpherson sê hy glo dit is belangrik dat ouer mense hulle so gou moontlik moet laat inent. “Dit sal die inentingsproses versnel, sodat die res van die gemeenskap ook ingeënt kan word,” het hy gesê.
Hy sê hy was die oggend trots om te sien daar is so baie Oudtshoorniete wat opgedaag het vir hul inentings.
“Dit is noodsaaklik dat inwoners vir die inenting gaan. Ons moet verstaan dat jy dit nie vir jouself doen nie, maar vir diegene om jou. Dit is die eerste stap wat elkeen kan neem om te help dat Oudtshoorn se ekonomie en ook toerisme na die dorp sal herstel.”
“Hoe gouer ons almal ingeënt is, hoe beter sal dit vir ons almal wees.”
Macpherson sê sy besoek aan die inentingsperseel by die Oudtshoorn Hospitaal was ’n positiewe ervaring wat vertroue by hom ingeboesem het. “Die gesondheidspersoneel was behulpsaam, betroubaar en doeltreffend,” het hy by- gevoeg.
Tye en plekke vir inenting vandeesweek
• Inwoners van 60 jaar en ouer van Oudtshoorn wat reeds vir die Covid-19-inenting geregistreer het, kan Donderdag- en Vrydagoggend (17 en 18 Junie) hul eerste inenting by die Oudtshoorn Hospitaal gaan ontvang. Slegs mense wat reeds geregistreer het en so op die Departement Gesondheid se databasis is, kan ingeënt word. Dit is belangrik om jou ID saam te bring. Mense wat per sms ’n afspraaktyd ontvang, geniet voorkeur, maar die sogenaamde “walk-ins” wat net opdaag, word ook gehelp.
• Inwoners van De Rust en Dysselsdorp word ook vandag (Donderdagoggend) by die dorpe se klinieke ingeënt. Geen afsprake is nodig nie.
Toekomsrussaal binnekort gebruik
Hoewel al die inentings op Oudtshoorn tans by die verpleegsterstehuis op die terrein van die Oudtshoorn Hospitaal gedoen word, is daar planne om na die Toekomsrus Gemeenskapsaal uit te brei waar meer ruimte is en wat ook nader is aan baie inwoners se woonplekke.
Inentings van bedlêendes
Die Departement Gesondheid is tans besig om ’n program saam te stel om persone wat bedlêend is te help sodat hulle tuis besoek kan word. ’n Groep bekend as die Roving-span reis na ouetehuise in die Groter Oudtshoorn om bejaardes in te ent.
110%-styging in Tuinroete
Daar ’n styging van 110% in nuwe gevalle oor die afgelope sewe dae in die Tuinroete Distrik – in vergelyking met die vorige sewe dae.
Die stygings was in al die distrikte behalwe in Oudtshoorn wat nog in hierdie stadium slegs gering gestyg het en Kannaland wat stabiel gebly het.
Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het Maandag (14 Junie) bekend gemaak dat die Wes-Kaap nou ook amptelik die derde vlaag van infeksies binnegegaan het met die aantal toenames in hospitale wat ook gegroei het. (Deur Liesel le Roux)
