TOE Donna Europa-Kouter sowat 12 jaar gelede as akteur aan ’n Net vir Pret-toneelstuk deelgeneem, het sy nooit verwag dat sy eendag die ge-leentheid sou kry om as regiseur op te tree nie.
Daardie geleentheid het hom vanjaar voorgedoen en sy kan nie wag om die toneelstuk, wat ’n groot deel vorm van dié jaar se Net vir Pret-program, vir die res van die wêreld te wys nie.
Net vir Pret is ’n plaaslike nie-winsgewende organisasie vir minderbevooregte kinders wat in 2004 gestig is. Hulle bied naskoolse, naweek- en vakansieprogramme aan vir kinders van Barrydale en op na-burige plase langs die R62. Hulle werk tans met sowat 500 kinders elke week.
Donna se opwinding word deur produksie-bestuurder Herman Witbooi gedeel. Hy sê vir hom was dit ’n besondere voorreg om met meer vryheid as in die verlede sy kreatiwiteit uit te leef.
Waar die Universiteit van die Wes-Kaap in die verlede oorhoofs in beheer was van die Net vir Pret Handpopskou, het Covid-19-regulasies sake verander en ’n onverwagse vlak van onafhanklik-heid is toegepas.
Die Net vir Pret-toneelstuk word in Desember aanlyn uitgesaai en daar word voorlopig ook ’n parade deur die hoofstraat van Barrydale beplan.
Donna vertel hoe sy eers as akteur en later handpop-speler haar tande geslyp het. Sy het later ook deel van die draaiboekskrywers geword.
Laasjaar was sy ’n assistant-regiseur in een van die vier toneelstukke wat opgevoer is en vanjaar is daar besluit dat sy die verantwoordelikheid as regiseur op haar eie skouers kan dra.
Die aktriese Denel Honeyball het as mentor haar gehelp om hierdie loopbaanskuif te maak.
“Ek het onder begin en is baie dankbaar dat Net vir Pret toe vir my die geleentheid gegee het om as regiseur op te tree,” vertel Donna.
“Dit is nie tipies vir iemand aan dié kant (die informele nedersetting van Smitsville) om ’n handpopspeler te wees nie. Daar is wel nou van die jonger vroue wat begin het om hierdie tipe take te verrig, maar om byvoorbeeld stories te skryf is nie algemeen hier nie.”
Donna verduidelik dat hoewel haar liefde vir skryf en stories vertel oor tyd ontwikkel het, sal sy nooit vergeet toe sy tot die slotsom gekom het dat dit haar passie is nie.
Tydens die voorbereiding van een van Net vir Pret se sprokies wat op die natuurskoon van Barrydale fokus, het een van die hoofregisseurs vir haar gevra om die storie waaraan sy gewerk het aan die groep te vertel.
Donna was op haar senuwees. Sy het in ’n rivier gestaan en die woorde het volgens haar net begin vloei. En hoe meer sy gepraat het, hoe duideliker het die beeld geraak van wat sy probeer skep het.
“Terwyl ek my storie vertel, het dit begin reën en daar was heel toevallig reën in my storie en dit was vir my die oomblik gewees wat ek geweet het dat ek daarvoor lief is om stories te vertel.”
Van daar af het sy begin en soos baie skrywers kan getuig, tref inspirasie haar dikwels op snaakse tye.
“Ek was soms skottelgoed dan kom die storie, of ek hang wasgoed op en dit is partykeer in die oomblikke wat ek dit die minste verwag wat ’n idee gebore word.”
Die verhaal wat vanjaar deur die Net vir Pret-span opgevoer word, handel oor die rol wat bome in die natuur en ook mense se lewens speel.
Oudergewoonte spreek dit ook aspekte soos sosiale kwale in die gemeenskap aan en daar word natuurlik ’n punt daarvan gemaak om hierdie sterk boodskap op so manier aan te bied dat die jeug daarby sal baat.
Die verhaal van Donna wat ’n rolmodel vir talle vroue in haar gemeenskap geword het, behoort ook eendag op die planke gesien te word, maar intussen het sy een doel voor oë: om van haar eerste soloprojek ’n sukses te maak. (Deur Mickey Mentz van News62)
Van akteur tot regiseur: Donna se droom word waar
Produksie bestuurder Herman Witbooi en regiseur Donna Europa-Kouter sien daarna uit om binnekort Net vir Pret se nuutste poppespel-toneelstuk vir die wêreld te wys. Beide hierdie inwoners van Smitville is rolmodelle in hul gemeenskap. Foto: Mickey Mentz