Klassieke Klein Karoo Kersfees ’n spesiale ervaring

Corlea Botha

“DANKBAARHEID” is die tema van vanjaar se Klassieke Klein Karoo Kersfees, wat op Saterdag 11 Desember op Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word.

Dankbaar dat ons nog ’n jaar oorleef het, dankbaar vir familie en vriende, dankbaar vir al die seëninge wat ons steeds elke dag ontvang.

Volgens Corlea Botha, wat vanjaar weer by die konsert gaan optree, het die afgelope jaar haar geleer dat ’n mens die lewe dag vir dag moet vat en in dankbaarheid moet lewe. “Daar’s ’n Engelse sêding wat lui; ‘Life’s what happens while you’re making other plans’, en dit is so waar! Ek dink almal sit op hete kole en kyk of ons die vieslike virus onder beheer kan kry sodat ons net weer ons lewens en loopbane kan hervat,” sê sy.

Sy het die afgelope jaar ’n paar keer opgetree en op haar sangskool en ’n paar interessante projekte gefokus. Sy het ook saam met ’n vriendin wat ’n boetiek in Pretoria het “extreme makeovers” begin doen – vroue ondergaan ’n gedaanteverwisseling onder die bekwame hande van Corlea, wat die hare en grimering doen, en Elzaan van der Merwe van Mamilla Fashions wat sorg vir ’n nuwe uitrusting.

Sy het ook ’n enkelsnit getiteld Haat uitgereik wat baie goed gevaar het op ’n paar trefferparades.

“Ek is opnuut dankbaar vir die voorreg om te kan optree en dat my passie ook my werk kan wees,” sê sy.

Corlea, wat van die eerste keer af deel was van die Klassieke Klein Karoo Kersfees-produksie, sê sy kan nie wag om weer voor “meer as 50 mense” op te tree nie en ook om ná die konsert met aanhangers te ge-sels nie.

Dié buitelugkonsert onder die Klein Karoo se pragtige sterrehemel, het die afgelope paar jaar ’n instelling in die Klein Karoo geraak.

Die produksie spog vanjaar met ’n splinternuwe program en die soprano Lynelle Ken-ned wat vir die eerste keer haar buiging maak.

Die nimlike Jannie Moolman voltooi die drietal.

Klassieke Klein Ka-roo Kersfees word vanjaar in samewerking met Klein Karoo Klassique aangebied. Die Hoorn is die mediavennoot.

Die soliste word be-gelei deur lede van die Stellenbosch Stadsorkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenburg.

Die gehoor kan uitsien na ’n volgepakte program wat van die wêreld se mooiste Kersliedere en klassieke treffers insluit. Van die klassieke treffers wat die aand opgevoer word sluit in “Somewhere”, “All I ask of you”, “Libiamo” en “Vivo per Lei”.

Kersliedere soos “Dis Kersfees” en “Jerusalem” kan ook gehoor word.

Klassieke Klein Karoo Kersfees 2021 begin om 19:30, maar die kos- en wyn-stalletjies op die terras is reeds van 18:00 af oop. Spyseniers en restaurante van die omgewing sal die kosstalletjies beman terwyl Jakkalsvlei se wyne, Grundheim se gins en Celebratio se granaatsap sal sorg dat niemand dors hoef te bly nie. Daar is ook ’n kontantkroeg.

Dit is die perfekte geleentheid om die jaar saam met familie en vriende af te sluit.

Kaartjies kos R250 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by PostNet Oudtshoorn se kantoor.

Dit is bespreekte sitplekke en daar is volop veilige parkering.

Die plaas is sowat 30 km van Oudtshoorn aan die Ou Sementpad geleë. Geen grondpad hoef gery te word nie.
Vir meer inligting kontak gerus Gerhard Meyer by 0828027138.