Vaarder wil oseaan alleen aandurf

Neels Terblanche langs sy eenman-trapboot. Foto verskaf

As alles goed verloop beplan Neels Terblanche, kranige fietsryer van Oudtshoorn, om in Oktober vanjaar sy trapboot se neus in die wind te steek vir ’n reusetraptog om die wêreld.

Neels het aanvanklik beplan om rondom Afrika te trap, maar die oorlog in die Midde-Ooste het hom om veiligheidsredes van plan laat verander.

Hy beplan om in die Kaap te begin, met die Weskus langs te trap tot by die ewenaar en dan die ewenaar te volg. Neels het verlede week vier dae in die trapboot op die Stompdriftdam deurgebring om die vaartuig te toets.

Hy het hierdie week gesê die vier dae was waardevol en het hom laat besef daar is ’n aantal praktiese kwessies wat hy moet oplos.

Die grootste uitdaging is die hitte binne die kajuit waarin hy omhul word. “Ek sal nog waaiers moet aanbring, want dit raak ongelooflik warm daar binne,” het hy gesê. Verder moet hy ook ’n meer praktiese manier kry om uit die diep water terug in die boot te klim sonder dat dit omslaan.

Volgens Neels is die roete wat hy gaan volg ongeveer 45 000 km en volgens sy berekeninge gaan dit hom ongeveer 30 maande neem, maar hy gee homself 4 jaar om voorsiening te maak vir die onvoorsiene. Die boot word geheel en al aangedryf deur pedale wat soos dié van ’n fiets getrap moet word en beweeg teen ongeveer 5 km per uur deur die water.

“Ek moet nog net oefen om die boot regop te kry as dit omslaan. Ek kon nie die roloefening op die dam doen nie, want daar was te veel los goed in die kajuit en ek sou iemand moet kry wat fisies die boot omdop terwyl ek binne-in sit,” sê hy.

Alhoewel daar nog verstellings en aanpassings gemaak moet word, is Neels vasbeslote om die tog aan te pak. Tydens die tog sal hy stoksielalleen op die oseaan wees met slegs telefoniese verbinding met ’n ondersteuningspan wat op Suid-Afri-kaanse bodem sal wees. (HANNES VISSER)