17-jarige kom voor vir moord

Renaldo Phillander (19), het Saterdagaand aan sy beserings beswyk nadat hy met ’n mes in Askamp gesteek is. Foto verskaf

Die 19-jarige Renaldo Phillander is Saterdagaand 18 Januarie dood verklaar met sy aankoms by die hospitaal. Phillander is na bewering in Mullerstraat deur ’n 17-jarige met ’n mes gesteek.

Omstanders het hom in ’n voertuig gelaai en na die provinsiale hospitaal gehaas. Hy is by die hospitaal dood verklaar. Die beskuldigde het Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder van die Suid-Kaap Polisie het in ’n verklaring gesê dat Phillander om 21:15 dood verklaar is.

“Inligting dui daarop dat die polisie na die Oudtshoorn Hospitaal ontbied is. Met hul aankoms het die lede die slagoffer met ’n steekwond aan die bors gevind. Hy was reeds deur mediese personeel dood verklaar. ’n Ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van ’n 17-jarige jeugdige.” lui die verklaring.

Oudtshoorn Community Against Crime sal op Dinsdag 28 Januarie om 16:00 ’n kransleggingsgeleentheid vir die oorledene en sy familie hou. Die organisasie het ook ’n petisie begin waarin daar gevra word dat die verdagte nie op borgtog vrygelaat word nie. (ANGELIQUE ERASMUS)