Inwoners gemaan oor waterverbruik

Die pragtige ligging van die Rau-benheimerdam onder die Swartberge. Foto verskaf

Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die afgelope dae twee verklarings oor Oudtshoorn se watervoorraad uitgereik.

Moontlike troebelheid a.g.v. veldbrande
In die eerste verklaring word inwoners daarop gewys dat die groot veldbrande wat twee weke gelede voorgekom het, moontlik die waterkwaliteit kan beïnvloed indien dit binnekort reën. Die brande het in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam voorgekom en soos wat in die verlede gebeur het, kan swaar reën veroorsaak dat verbrande reste in die dam beland. Oudtshoorn het as gevolg van die goeie kwaliteit van die bergwater nog nooit ’n watersuiweringsaanleg gehad nie. Drinkwater word slegs met chloor behandel voordat dit na die dorp se reservoirs herlei word.

Dalende damvlak en hoë verbruik
In ’n verkalring wat hierdie week uitgereik is, maan die munisipaliteit inwoners dringend om nie oormatig water te gebruik nie. Die dam se vlak is tans 87%, maar as gevolg van die hittetoestande is die verdampingsyfer hoog en inwoners gebruik ook hierdie tyd van die jaar baie meer water. Hierby moet in ag geneem word dat ’n ooreenkoms met boere tydens die bou van die dam in die 1970’s bepaal dat 10% van die dam se water jaarliks tussen Januarie en Maart vir landboudoeleindes vrygelaat moet word vir landbouers wat stroomaf van die dam boer. Dit beloop ongeveer 900 miljoen liter water.

Die gemiddelde waterverbruik deur inwoners uit die Raubenheimerdam is ongeveer 17 miljoen liter per dag en in die somermaande styg dit sommige dae tot meer as 20 miljoen liter. In die somer verdamp ongeveer 6 miljoen liter water per dag.

Teen die huidige tempo daal die damvlak vining en indien dit nie reën nie sal die vlak op 60% wees teen die einde van Maart.

Die munisipaliteit gee die versekering dat hulle waterverbruik en loslatings streng monitor, maar doen ’n dringende beroep op inwoners om ook water te spaar. Besparingsmaatreëls sal in plek gestel word sodra die damvlak 80% bereik. (HANNES VISSER)