Ds Ebraimilde Ruzeen Booysen (42) het Sondag sy intreepreek in ’n stampvol Volkskerk gelewer. Die kerk was na die uittrede van ds. Samuel du Plessis in 2022 herderloos.
Die geleentheid is bygewoon deur die moderator van die Volkskerk, ds Louis Jansen, die voormalige moderator, dr Donald Kattz, asook leraars van verskeie kerkgenootskappe.
“Ek is nie deur ’n individu beroep nie maar deur die gemeente. Dit maak nie saak in watter woonbuurt jy woon of wat jou status is nie, ek is hier vir almal,” het Booysen gesê.
Hy is Saterdag deur gemeentelede op die De Rust-pad ingewag en met ’n konvooi na die pastorie in Sesdelaan Colridge View geneem. Later die middag is hy deur ds. Jansen as predikant van die Oudtshoorngemeente bevestig. Booysen is ’n boorling van Oudtshoorn wat op 11 Februarie 2012 deur die voormalige moderator dr Donald Kattz in die Oudtshoorn-kerk as leraar georden is. Hierna is hy na Kimberley beroep waar hy die afgelope twaalf jaar in die bediening gestaan het.
Sedert sy ordening dien hy die Volkskerk-kerkgenootskap op verskillende vlakke, onder andere, as skriba van die Leraarsraad, lid van die Raad van Eksaminatore en is tans die Skriba Synodi van die kerkgenootskap. Hy is in 2015 getroud met Julia Farland van Riversdal en die egpaar het ’n dogtertjie van 18 maande. (GARNETT WICOMB)
Volkskerk kry leraar
