Unieke jagluiperd-bewaringsprojek

’n Jagluiperdmannetjie, goed gekamoefleer in sy bebosde tuiste op Buffelsdrift buite Oudtshoorn. Bo agter hom lê ’n bok wat hy vroeër platgetrek het. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

OM ’n ontwykende jagluiperd in die na­tuur raak te loop is ’n ervaring wat min mense ervaar, maar by die Buffelsdrift Game Lodge buite Oudtshoorn het dit onlangs ’n klein bietjie makliker geraak met hul jagluiperd-ervaring – ’n belewenis wat op meer as net vermaak fokus en die nuutste toevoeging is tot die Buffelsdrift Stigting se bedrywighede.

Die Hoorn het verlede week gaan kuier by Arrie Crafford, hoof van die stigting, om te kyk of die twee jagluiperds wat tans daar woon, opgespoor kon word en om meer uit te vind oor die vrylopende jaglui­perd-ervaring. Dié ervaring maak deel uit van die jagluiperd-metapopulasieprojek van die Endangered Wildlife Trust (EWT).

Die soektog na die jagluiperdmannetjie het vroegoggend begin, en baie geduld gevra! Die omgewing waarin die jag­lui­perds rondbeweeg, is bebos en groot. Dit was ’n soektog oor baie kilometers, kron-kelpaaie en koppies.

Die opwinding het hoog geloop toe Crafford met die hulp van gids Mariné Dippenaar en ’n hoë frekwensie-ontvan­ger wat met ’n halsband om die jag­luiperd se nek “kommunikeer”, die pragdier opspoor. Wat ’n onbeskryflike ervaring om dié wilde grootkat byna vierkant in die oë te staar – wel met so 30 m tussen ons – en die mannetjie nie af te skrik of te pla nie.

Maar saam met die opwinding is daar baie om te leer. Die stigting beoog om pro­jekte te ondersteun wat fokus op lang­termyn- en volhoubare bewaring van be­dreigde spesies. ’n Ander belangrike funk­sie van die stigting is om die Vrede­rust Skool naby Buffelsdrift te ondersteun.

Volgens Andries van Schalkwyk, be­sturende direkteur van Buffelsdrift Game Lodge, is die vrylopende jaglui­perd-er­varing deel van ’n “groter prentjie”.

“Die EWT, onder leiding van Vincent van der Merwe, beheer 61 plase waar jagluiperds vry rondloop. Om die nasio­nale bevolking van jagluiperds se gene-poel mooi skoon te hou, besluit Vincent en die EWT waarheen enige welpies wat hier of by die ander plase gebore word, moet gaan,” sê Van Schalkwyk.

Dit beteken dat welpies wat op Buffelsdrift gebore word, moontlik in KwaZulu-Natal of Mpumalanga kan beland om te verseker dat geen inteling plaasvind nie,.

Na twee jaar se aanpassing het Buffelsdrift in April 2020 met hul jagluiperd-ervaring begin. Die span streef sedertdien daarna om ’n platform te skep waar toe­ris­­te en Suid-Afrikaners meer oor dié roof­­­dier in sy natuurlike omgewing kan leer.

Die doel is om bewaringsbewustheid te skep en besoekers ’n eenmalige erva­ring te bied. En omdat die bewaring van habitat vir spesies soos jagluiperds ’n groot uitdaging is, het Buffelsdrift besluit om so ’n bydrae te lewer.

Vincent van der Merwe van EWT het met die verfilming van ’n video oor die projek in Januarie vanjaar gesê dat hulle reeds wilde jagluiperds in 47 reservate in privaatbesit, en 13 reservate in staatsbesit kon hervestig.

“Ons het hiermee ’n gesamentlike jagluiperdhabitat gevestig wat byna so groot is soos die Kruger Nasionale Park,” het hy bygevoeg.

Dit maak van Suid-Afrika die enigste land in die wêreld, volgens Van der Merwe, met ’n groeiende wilde jaglui­perdbevolking! En ’n bydrae hiertoe word vanuit Oudtshoorn gelewer! (Deur Stefan Skapie Goosen)