
UITSPRAAK in die borgtogaansoek van die vrou wat van moord op die rugbyspeler, Boutros (Boelie) May aangekla word, sal moontlik vandag (1 Junie) gelewer word.
Dit volg nadat die saak verlede Woensdag uitgestel is na ’n versoek van die staat dat die aansoek heropen word omdat nuwe inligting glo bekom is.
Die 24-jarige Felicia Afrika het May glo die oggend van 12 Februarie vanjaar naby ’n kuierplek in St Johnstraat, met ’n skerp voorwerp in die skouer gesteek en hy is ’n paar uur later in die hospitaal dood.
Landdros Stephanie Strydom het die versoek van die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, toegestaan ten spyte van Afrika se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel se beswaar.
Volgens Laubscher het sy twee dae na die sluiting van die borgaansoek nuwe inligting bekom waarvan sy nog nie al die dokumentasie ontvang het nie.
Volgens haar gaan dit oor Afrika se registrasie by die Robert Sobukwe Akademie wat nie plaasgevind het nie, kommunikasie met staatsgetuies en haar beweerde geneigdheid om misdaad te pleeg. Sy het die hof versoek om die saak tot 5 Junie uit te stel.
Volgens Swanepoel kon Afrika nie by die inrigting registreer op die gemelde datum nie omdat sy twee dae tevore in hegtenis geneem is.
Sy kliënt ken nie al die staatsgetuienis nie en daar is geen bewys voor die hof dat sy geneig is om misdaad te pleeg nie.
Volgens hom is die nuwe inligting wat die staat voor die hof wil bring irrelevant tot die borgtogaansoek en dat die staat se versoek van die hand gewys moet word.
Die hof het beslis dat die staat die nuwe inligting so gou doenlik aan die verdediging beskikbaar moet stel om behoorlik daarop te kan reageer.
Die landdros het gesê dat sy gereed is om uitspraak te lewer en dat 5 Junie te lank is. Sy het ook beslis dat indien die inligting wat die staat wil voorlê nie relevant tot die borgaansoek is nie, sy op Donderdag 1 Junie uitspraak sal lewer.
Die verrigtinge sal om 14:00 begin omdat die staatsaanklaer die oggend by ander voorkeursake betrokke is. (Deur Garnett Wicomb)
Twee moorde oor naweek
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek tans twee moorde wat tussen Vrydag en Sondag plaasgevind het op die dorp, maar sê dat hierdie moorde geen verband met mekaar hou nie. Hierdie moorde is twee van vele wat reeds vanjaar op Oudtshoorn plaasgevind het.
Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die eerste moord Vrydag (26 Mei) omstreeks 23:15 die aand plaasgevind in Oklahomastraat, Rosebank. Hy sê dat, met die aankoms van polisiebeamptes op die toneel, is Isak Manie (49) gevind met veelvuldige beserings. “Die slagoffer is deur paramedici dood verklaar op die toneel,” sê Spies.
Spies sê dat drie jeugdiges, tussen 14 en 19 jaar oud, in hegtenis geneem is.
In die tweede geval is ’n 28-jarige man in hegtenis geneem in verband met die moord van ’n 32-jarige man in Sesde Laan, Bongolethu.
Volgens Spies is die slagoffer by ’n sake-perseel in die straat omstreeks 21:30 op Sondag, 28 Mei gevind. “Die beskikbare inligting dui daarop dat die slagoffer aan diens was by die perseel toe hy ’n steekwond aan die nek opgedoen het. Hy is later dood verklaar op die toneel,” sê Spies.
Spies voeg by dat beide persone wat in hegtenis geneem is in die hof sal verskyn sodra hulle amptelik aangekla is, en dat die ondersoek in beide gevalle voortduur. (Deur Stefan Skapie Goosen)