PERDE-uithouritruiters van Oudtshoorn en die Klein-Karoo het verledeweek met trots aan die SAIC (South African International Challenge), by Louvain gasteplaas, sowat 50 km buite Oudtshoorn deelgeneem.
Sowat 150 ruiters vanaf Namibië, Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noordwes en Kwazulu-Natal het in die verskillende afstande en gewigskategorieë, in spanverband en individueel hiér kom meeding.
Hierdie is die enigste internasionale rit in Suid-Afrika en naas Fauresmith, die grootste byeenkoms.
Anso Nel, van Oudtshoorn is in die Proteaspan in die 120 km kategorie opgeneem.
Die bekende broer en suster duo, Nico Meyer – en Lara le Roux, sowel as Ankhe Muller, Almarie Nel en Saul van Wyk is almal in die Wes-Kaap- span opgeneem, onderskeidelik vir die 160 km, 120 km en 100 km kategorieë.
Op Woensdagoggend om 04:00 het 48 ruiters vir die 160 km weggespring, en daarna die 100 km en 80 km afstande. Daar het ongelukkig 28 ruiters op die dag uitgeval, weens die aard van hierdie uiters tegniese baan.
Op Vrydag het 102 ruiters die oggend om 06:15 vir die 120 km weggespring, en slegs 58 perde en hul ruiters kon hierdie afstand kafdraf.
Die 160 km algehele wenner en eerste standaardgewig ruiter oor die wenstreep was Joseph Rapulana, met die perd Perdeberg Nikita in ’n tyd van 8:15:54, en het hulle die rekord vir hierdie afstand verbeter met 2-minute en 4-sekondes. Die wenner in die liggewig kategorie was Samson Mjika met die perd Perdeberg Montagu, met ’n tyd van 8:34:17. Beide perde word besit deur Danie Louw van Trompsburg in die Vrystaat en eienaar van die Perdebergstoet. Die eerste jong ruiter in die afstand was Mari-Ester Hayward en haar perd Idaho SS Tracer, met ’n tyd van 8:58:29.
Die algehele wenner in die 120 km kategorie en die liggewig wenner was die ruiter Emma van Zyl en haar perd Ber-Kaz Tariq met ’n tyd van 5:24:01. Corrie van Niekerk was die eerste standaardgewig ruiter en het die afstand in 5:28:45 voltooi op sy perd Wiejandie Nabil. Die eerste jong ruiter was Willem van Wyk en sy perd Henham Scothbonnet, en het klaargemaak met ’n tyd van 5:40:46
Afgesien van die baie tegniese baan, was ruiters dit eens dat dit sekerlik een van die mooiste bane en areas, met ’n verskeidenheid baantoestande is. Die weer was ook tegemoetkomend met geen reën wat op die twee dae geval het nie, maar dit het wel voor en na elke dag gereën. (Deur Angelique Erasmus)

Ruiters in aksie tydens die 160 km afstand op Woensdag.

Die Wes-Kaap span, met Lara le Roux (2de links voor), Almerie Nel (3de links voor), Ankhe Muller (5de links voor) en Saul van Wyk (staan regs).

Links is Nico-Meyer le Roux wat ook in die Wes-Kaap span opgeneem is. Regs is Anso Nel van Oudtshoorn wat in die Protea-span opgeneem is in die 120 km kategorie. Foto’s: Johanette Photography