Berry skuldig

Marilize Nortier. Foto: Hoorn Argief Onder: Die BMW-motor wat deur Sidney Berry bestuur is en waarin Marilize Nortier gesterf het. Foto: Hoorn argief

DIT was Dinsdag die bevinding van landdros Vaughn Shone in die saak teen Sydney Berry (25) van Groot Brakrivier wat die bestuurder was van die BMW motor waarin die matrikulant van Oudtshoorn, Marilize Nortier (18), in die oggendure van 22 September 2019 gesterf het. Sy het volgens die lykskouing verdrink.

Berry is aan strafbare manslag skuldig bevind maar onskuldig op twee ander aanklagte naamlik roekelose bestuur en versuim om hulp op ’n ongelukstoneel te verleen.

Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het toegegee dat die staat nie daarin ge-slaag het om te bewys dat Berry versuim het om hulp op ’n ongelukstoneel te verleen nie.

Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, was egter die mening toegedaan dat hy ook op die klagte van strafbare manslag vrygespreek behoort te word.

Berry het onskuldig gepleit en volgehou dat hy nie kan onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie, en beslis hulp sou verleen het, indien hy geweet het dat daar iemand in sy motor was. Hy het sy bewussyn in die ongeluk verloor en eers later herwin.

Hy het getuig dat ’n dier moontlik voor hom oor die pad kon gehardloop, en hy weggeswaai het.

Landdros Vaughn Shone het sy uitspraak begin met ’n opsomming van al die getuies asook die staat en die verdediging se betoë.

Volgens hom het Berry wel erken dat hy die bestuurder van die motor was en hy die betrokke aand nadat hy sy vriende. Stephen Knoop en die twee Lilly-broers, Lucas en Erin, afgelaai, en daarna op die Kango Grotte-pad gery het. Hy kan egter nie onthou waarom hy daar gery het nie, en kon nie ’n genoegsame verduideliking gee van wat die moontlike oorsaak van die ongeluk was nie.

Die hof het ook bevind dat geen genoegsame getuienis voor die hof is wat aandui dat die beskuldigde onder die invloed van drank was toe die ongeluk gebeur het nie.

Volgens sy eie getuienis was hy die betrokke aand by die Braaikraal waar hulle gekuier het, en het hy net een dubbelbrandewyn en Coke gedrink.

Die hof het bevind dat Berry verkeerdelik en nalatig die ongeluk veroorsaak het wat tot die dood van Nortier gelei het.

Haar liggaam is ’n paar uur na die ongeluk, steeds vasgegespe, in die motor in die watersloot gevind.
Daar was geen ooggetuies van die ongeluk nie.

Volgens die ongeluksverslag het die motor ook geen meganiese probleme of defekte gehad nie.

Marilize was ’n matriekleerling by Langenhoven Gimnasium en sou die betrokke aand by ’n vriendin oorslaap.

Bans het na Berry se skuldigbevinding die hof versoek om die saak voor vonnisoplegging vir proefbeampte- en korrektiewe verslae uit te stel.

Volgens hom het Berry van die begin af sy samewerking aan die ondersoekbeampte, ao. Darome Burger verleen en is steeds by dieselfde adres woonagtig.

Hy is ook nie ’n vlugrisiko nie.

Die saak is vir betoë en vonnis tot 13 Julie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)