Kind verdrink tragies in Volmoed

’N tweejarige dogtertjie, Faithlyn Wagenaar het Dinsdagmiddag in Volmoed verdrink, nadat sy vermoedelik in ’n gat vol water geval het.

Die gat is vol water as gevolg van die afgelope paar dae se reën in en om Oudtshoorn.
Weergawes oor presies wat gebeur het verskil.

Sommige weergawes beweer sy is deur ’n ander kind in die oop gat gestamp, terwyl ander beweer sy het ingeval.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie is die voorval omstreeks 18:15 aangemeld by die polisie.

“Omstandighede rondom die dood van ‘n 2-jarige kleuter op Dinsdag 30 Mei 2023 omstreeks 18:15 word tans ondersoek.” Het hy aan Die Hoorn gesê in ’n verklaring.

Die verklaring lui verder dat ’n nadoodse ondersoek om die oorsaak van dood te bepaal, sal na verwagting gedurende hierdie week gedoen word.

“Voorlopige inligting wat beskikbaar is, dui daarop dat die liggaam van die 2-jarige uit ‘n gat vol water op ‘n plaas by Volmoed gehaal is. Sy is hospitaal toe geneem en met haar aankoms is sy deur mediese personeel dood verklaar.”

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek dossier geopen vir verdere ondersoek.

’n Inwoner wat anoniem wil bly het aan Die Hoorn vertel dat die dogtertjie eers ontdek is toe een van die kinders vir hul ouers wat van die werk af gekom het vertel dat die dogtertjie vermis is, en moontlik in die gat kon geval het. Haar ouers het gaan ondersoek instel, en haar gekry.

Hulle het hulp ontbied en kunsmatige asemhaling begin toepas, en haar later in ’n voertuig van een van die inwoners gelaai en na die hospitaal geneem. Dit was ongelukkig reeds te laat.

“Dit is waarlik ’n tragiese affêre. Terwyl iemand besig was om vir haar kunsmatige asemhaling te gee het die hele gemeenskap daar gestaan en aanskou en vir daardie oomblik was Volmoed tjoepstil. Almal kon net daar staan en bid en hoop dat sy bykom,” het die inwoner vertel.

Die persoon vertel verder dat die voorval iets is wat die inwoner persoonlik altyd sal bybly. “Haar ouers is verpletter. Ons as gemeenskap is stukkend. Sy was so ’n lewendige kindjie wie altyd besig was om te speel.”

Geen verdere inligting was teen druktyd beskikbaar nie. (Deur Angelique Erasmus)