Uithourit om na uit te sien

Ruiters en hul perde durf die De Zeekoe-uithourit vroeër vanjaar aan. Foto: Johanette Photography

Perdeliefhebbers kan vandag (Vrydag) ’n draai maak by die Kansa Krale, net buite Oudtshoorn en die mooiste uithouritperde besigtig.

Meer as 50 perde neem die naweek deel aan die 27ste De Zeekoe perde-uithourit. Ruiters durf op Vrydag 20 September en Saterdag 21 September afstande van 20 km, 40 km, 80 km en 120 km op hul perde aan.

Vrydag is ’n heerlike saamkuier-geleentheid met ’n spitbraai en wynveiling vanaf 18:30 wat deur die klub aangebied word om fondse in te samel. Die publiek is welkom om ook kaartjies te koop en kan ook op die verskeidenheid wyne bie. Daar is onder andere ’n bottel 2004 De Krans Cape Vintage Reserve Port, met ’n waarde van R2 000, wat opgeraap kan word. Kontak 076 606 2554 vir meer inligting of om etekaartjies te bespreek. Verskeie stalletjies sal eet- en drinkgoed en ander interessanthede verskaf. Kom loer gerus.

Die eerste Oudtshoorn perde-uithourit is op 28 Maart 1997 op die plaas Rooirivier sowat 20 km vanaf De Rust gehou. Die rit het tot in 2012 daar plaasgevind, waarna wyle Nico du Bois die aanbieding van die uithourit oorgeneem het en dit herdoop is na die De Zeekoe Meerkat Uithourit.

Dit is vir die volgende drie jaar by die Kansa Krale aangebied. Vanaf 2016 tot 2018 het dit na Berluda Gasteplaas in Schoemanshoek geskuif, voordat dit in 2019 teruggeskuif is na die Kansa Krale. Die rit kon nie tydens 2020 met die Covid-19 pandemie plaasvind nie en is weer in 2021 en 2022 aangebied.

In 2023 is die perseel opgegradeer en die rit het na Louvain Gasteplaas tussen Herold en Uniondale geskuif.

Met die nuwe toevoegings en opgraderings by die Kansa Krale kan ruiters die rit by ’n moderne lokaal geniet. Vroeër vanjaar is ’n internasionale rit ook by die Kansa Krale aangebied.

“Ons bedank al ons borge vir hul ondersteuning, sonder wie die rit beslis nie moontlik sou kon wees nie. Elke bydrae word ongelooflik baie waardeer,” het Henk Basson, voorsitter van die Outeniqua Uithouritklub, wat ook die rit aanbied aan Die Hoorn gesê.

Hul borge is Die Hoorn, Oudtshoorn Munisipaliteit, Midas, Van Rooyen Propshafts and Balancing Shop, De Krans, Calitzdorp Wynkelder, Boplaas Family Vineyards, Glenwood Wines, Karusa Wines & Craft Brewery, Spurwing Equine Feeds, Horse & Rides, Apex Animal Health, Alert Patrol, Lancewood Cheese, Volmoed Cottage, Top Loo’s en Cape Karoo International. (Deur Angelique Erasmus)