Die verhoor van Johannes Saayman (55) van Buffelsjachtsfontein, in die Calitzdorp-distrik, wat op 4 Julie in die Oudtshoorn streekhof sou begin is tot volgende jaar uitgestel na die mededeling van die verdediging dat ’n advokaat aangestel is om namens die beskuldigde op te tree.
Saayman word daarvan aangekla dat hy die vrou die aand van 26 Junie 2021, op die Calitzdorp sementpad gewurg, met die vuis geslaan en ook getrap het.
Saayman erken in sy pleitverduideliking dat die klaagster by ’n vorige geleentheid ’n interdik teen hom verkry het.
Sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die hof meegedeel dat ’n advokaat van George namens Saayman sal verskyn.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak daarna vir verhoor tot 24 Maart 2025 uitgestel en Saayman se borgtog van R5 000 en borgvoorwaardes tot dan verleng.
Van die voorwaardes is dat hy nie kontak moet maak met die vrou nie, nie by verdere misdaad betrokke raak nie, en wegbly van waar sy tans woonagtig is. (Deur Garnett Wicomb)