Borgtog geweier aan man wat rou kos eet en aanrand

Borgtog is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn landdroshof geweier aan ’n jong man van Bridgton wat tereg staan op klagtes van aanranding van sy moeder en suster.

Die ondersoekbeampte, ao Anton Kock het borgtog vir Godwin Pietersen (22) teengestaan omdat niemand van sy familie hom by die huis wil hê nie.

Volgens Kock het Pietersen by ’n vorige geleentheid ook sy 75-jarige pa aangerand en eet hy alle rou kos in die huis.

Landdros Ntombizandile Maseti het bevind dat Pietersen ’n gevaar vir sy familie inhou en dit in belang van geregtigheid is dat hy in aanhouding bly.

Dit blyk dat hy ’n geneigdheid het om misdaad te pleeg en die saak is vir verhoor uitgestel tot 15 Augustus. (Deur Garnett Wicomb)