GEMEENTELEDE van die 17 kerke verbonde aan die Outeniqua-streek van
die United Congregational Chuches of Southern Africa het UCCSA-dag Sondag (2 Oktober) op luisterryke wyse op Oudtshoorn gevier. Die vieringe het bestaan uit ’n optog vanaf die Bridgton Sportgronde en ’n feesdiens in die Bridgton United Congregational Kerk.
Dit was die viering van die 55ste herdenking van die stigting van die United Congregational Churches of Southern Africa (UCCSA) .
’n Diens met die tema Reaching New Frontiers: Hope and Healing, is gelei deur die sekretaris van die Suid-Afrikaanse sinode, eerw Bertram Swarts.
Die diens is voorafgegaan deur ’n optog met vlae en baniere van al die kerke gelei deur deur brigade-orkeste.
Kerse is tydens die diens aangesteek vir die sewe lande waar UCCSA-kerke is, naamlik Angola, Botswana, Namibië, Malawi, Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe, asook een ter viering van die 20ste bestaansjaar van die Suid-Afrikaanse sinode.
UCCSA is op 3 Oktober 1967 in Durban gestig toe die London Missionary Society, die Congregational Union of South Africa, die American Board Mission en die Bantu Congregational Kerk saamgesmelt het.
Die eerste Sondag in Oktober is toe bepaal as UCCSA-dag, ook bekend as Congregational Day, met die hoofdoel om fees te vier en te reflekteer op die reis tot dusver as ’n UCCSA-familie. (Deur Garnett Wicomb)
UCCSA-dag luisterryk gevier
Sondag se optog. Foto: Garnett Wicomb