’N TWEEDE man het sy lyf Kersvader probeer hou en by die skoorsteen van ’n bekende sportkroeg op die Checkers Plein op Oudtshoorn ingeklim.
Maar toe kon hy nie daarin geslaag om weer uit te klim nie!
Volgens een van die mede-eienaars van die Wicit Sportkroeg, Maurice Wicomb, het die alarm van die besigheid Maandagoggend omstreeks 02:30 afgegaan waarna die vermeende dief aan die elektriese bedrading gepeuter en die ligte ook alles afgeslaan het.
Hy kon gevolglik niks sien nie en is binne die donker kroeg deur die polisie en lede van Suiderkruis Sekuriteit gekry en in hegtenis geneem. ’n Vriend van hom wat glo op die dak gewag het, het weggekom.
Die verdagte sou gister op ’n klagte van huisbraak met die opset om te steel in die hof verskyn.
• ’n Eerste “Kersvader’, Farrell Solomons (28), het op 9 April 2020 ook deur die skoorsteen van die Wicit Sportkroeg geklim en sowat R2 700 se drank in ’n drasak gepak.
Hy is in die skoorsteen deur die polisie gevind toe hy nie kon uitkruip nie.
Hy is borgtog van R300 toegestaan en verskyn weer op 15 Junie in die hof. (Deur Garnett Wicomb)