FAMILIELEDE van ’n matriekleerder wat vermoor is, Angelo Manewille (19), het verlede Woensdag (28 Oktober) gejuig en hande geklap toe streeklanddros Sylvia Mandla ’n versoek om borgtog deur een van sy twee moordenaars van die hand gewys het.
Richard Manel (43) en Shaun Nagel (40) is elk tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Manewille op Saterdag 28 Julie 2018 in Springbokweg, Bridgton. Hulle het in ’n bakleiery met Manewill betrokke geraak wat glo niks met hulle te doen gehad het nie.
Albei het volgehou dat hulle onskuldig is.
Die landdros het die twee se verweer dat hulle uit selfverdediging opgetree het en nie kon verduidelik hoedat die oorledene aan sy beserings gekom het nie, verwerp.
Sy het die getuienis van Tommy Anthony, wat die bakleiery vanaf sy stoep dopgehou het, as betroubaar bevind. Anthony het getuig dat hy gesien het hoedat Manel die oorledene met ’n skerp voorwerp steek.
Die landdros het bevind dat hoewel Nagel nie ’n wapen gehad het nie, hy en Manel met ’n gemeenskaplike doel opgetree het.
“Dit is volgens getuienis voor die hof duidelik dat die beskuldigdes se lewens nie in gevaar was nie en hulle nie eerlik was met die hof nie,” het die landdros gesê. “Die oorledene was ongewapen en geen bedreiging vir die beskuldigdes nie. Hulle toon geen berou nie en die hof moet ’n sterk boodskap uitstuur met ’n swaar vonnis wat dit duidelik stel dat die soort gedrag nie geduld kan word nie. ’n Moeder het haar enigste kind op ’n wrede manier verloor.”
’n Versoek van Manel se regsverteenwoordiger, Vaughan Shone, om teen sy skuldigbevinding te appelleer is tot 16 November 2020 uitgestel omdat die staatsaanklaer wat die saak hanteer het, nie verlede Woensdag by die hof kon wees nie. Volgens Shone het die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie en het die landdros fouteer met die skuldigbevinding van Manel. Hy is van mening dat ’n ander hof tot ’n ander bevinding kan kom.
Sy versoek dat Manel se borg verleng word tot 16 November is onder groot gejuig van die oorledene se familie en ondersteuners deur die landdros van die hand gewys.
Manel en Nagel is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Brandon Smith was die aanklaer in die saak en ao Piet Hendricks die ondersoekbeampte. (Deur Garnett Wicomb)