DIE Oudtshoorn Polisie het verlede week twee mans in die omgewing van die Oudtshoorn-gholfbaan gearresteer nadat koperpype, yster en aluminium in hul besit gevind is.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die mans vroegoggend op Dinsdag 15 Oktober gearresteer omdat hulle vermoedelik gesteelde goedere in hul besit gehad het.
Sy sê die polisie het gereageer op ’n oproep van ’n lid van die publiek omstreeks 06:20 oor twee verdagte mans wat naby die gholfbaan in Springbokweg loop.
Een van die mans het ’n streepsak vol koperpype en ysters by hom gehad. Hy kon geen verduideliking gee waar hy dit gekry het nie.
Om 07:00 het die polisie weer ’n oproep ontvang oor nog ’n man wat uit die rigting van die gholfbaan uitgekom het.
Dié man het ’n wit sak vol aluminium en koperpype by hom gehad en aan die polisie erken dat hy dit by verskeie huise geneem het.
Volgens Michaels is die diefstal van koperpype en skrootmetaal ’n probleem op Oudtshoorn, en meld mense dikwels nie sake aan oor sulke diefstal nie.
Brig Lavona Januari, stasiekommisaris van Oudtshoorn, het op haar beurt die publiek bedank vir hulle hulp en die polisiebeamptes wat so vinnig gereageer het.