Daar word gewoeker op die terrein van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn waar ’n sintetiese hokkieveld (astroveld) in die aanbou is. Foto verskaf
DAAR word goeie vordering gemaak met die eerste sintetiese hokkieveld (astroveld) vir Oudtshoorn wat tans by Langenhoven Gimnasium in aanbou is.
Volgens die skoolhoof, Stephanus Potgieter, sal die baan volgens beplanning op 10 Desember klaar wees en in Januarie volgende jaar in gebruik geneem kan word.
’n Maatskappy wat reeds verskeie sintetiese velde in die Wes-Kaap gebou het, is die kontrakteur vir die projek, maar plaaslike subkontrakteurs werk saam aan die projek. Die belangrikste deel van die nuwe veld, die sintetiese mat (sintetiese grasoppervlak), is volgens presiese spesifikasies in België vervaardig.
Dit duur volgens Potgieter drie maande lank om so ’n mat te vervaardig waarna dit per boot na Kaapstad geneem word, ’n reis wat nog sewe weke duur.
Die mat sal teen die einde van November gelê word.
Potgieter sê daar word ook beoog om volgende jaar spreiligte om die hokkieveld te installeer sodat wedstryde saans gespeel kan word. Die skool wil graag ’n toernooi in die Maartvakansie reël waartydens daar dan ook saans wedstryde gespeel sal kan word.
Volgens hom het die skool baie lank besin en navorsing gedoen voordat dié groot projek aangepak is.
“Die sintetiese hokkieveld is nie net vir Langenhoven Gimnasium nie, maar is ’n projek vir die dorp sodat dit nie nodig is vir kinders om uit die dorp te gaan om op ’n sintetiese veld te kan speel nie.”
Hy sê die veld pas in by die visie van die skool om relevant te wees ten opsigte van ontwikkeling.
“Hokkiespelers verkies deesdae om op ’n sintetiese oppervlak te speel. Die veld sal dit moontlik maak dat skole van buite die dorp graag liga-wedstryde op Oudtshoorn sal wil speel en dat hokkieproewe ook hier sal kan plaasvind. Dit sal ook teen ’n billike tarief as oefengerief aan buurskole beskikbaar gestel word.”