Deur Liesel le Roux
DIE Organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie (Ogod) is nie gekant teen godsdiens in skole nie en teiken ook nie Christelike skole nie, maar die beoefening van godsdiens in skole moet volgens die nasionale beleid oor godsdiens in opvoeding en in lyn met die Grondwet geskied.
So sê Hans Pietersen, voorsitter van Ogod.
Pietersen het vandeesweek in reaksie op die Hooggeregshofuitspraak in die sogenaamde skolegodsdienssaak gesê Ogod is tevrede met die uitspraak. Volgens hom gaan Ogod nou sy fokus verskuif na die sowat 24 000 openbare skole in Suid-Afrika.
“Die hof het bevind dat ’n openbare skool nie een geloof bo ’n ander mag bevoordeel nie en byvoorbeeld nie mag sê hulle het ’n Christelike etos nie.”
Volgens hom impliseer dit byvoorbeeld dat ’n onderwyser wel die Bybelse skeppingsverhaal aan ’n klas kan oordra, maar slegs indien die skeppingsverhale van ander gelowe ook weergegee word.
Hy het gesê uit reaksie op die hof se bevinding is dit duidelik dat ’n groot aantal skole poog om hul beleide in lyn te bring met die Grondwet.
Albertus Kennedy, voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Oudtshoorn, het in reaksie op die hofuitspraak gesê dat die Struisies gemaklik is met die uitspraak.
“Een van die skool se ouers betrokke by Ogod se kinders is steeds in die skool en die ouer het vroeër ten tye van ’n skoolvergadering sy dank teenoor die skool uitgespreek dat daar mooi na sy kinders gekyk word en dat nie op grond van hul godsdiensoortuiginge teen hul gediskrimineer word nie.
“Ons gun enige individu sy geloofsoortuiginge en het nog altyd die beginsel toegepas dat ander gelowe in die skool gerespekteer word.
“Daar is bitter min verandering in die huidige skolewet en hoe ons dit toepas. Ons diskrimineer nie op grond van godsdiens teen ’n leerder nie.”
Christo van der Bergh, prokureur en voorsitter van Langenhoven Gimnasium se beheerliggaam, het ’n persverklaring uitgereik na aanleiding van die uitspraak.
Luidens die persverklaring speel godsdiens ’n wesenlike rol in die skoolgemeenskap van Langenhoven Gimnasium. Dit lui voorts: “Ons godsdienstige oortuigings is ’n belangrike bron van die identiteit, waardes en lewensbeskouings van leerders, ouers en onderwysers. Ons erken die vormende invloed van geloof. Terselfdertyd word aanvaar dat, tensy dié sake met groot sensitiwiteit hanteer word, dit uitsluiting, diskriminasie, verdeling en dwang in die hand kan werk. Ons godsdiensbeleid is onderworpe en geskoei op die Grondwet wat erken die inherente menswaardigheid van elke persoon, verskanste vryheid van godsdiens, gewete en oortuiging.
“Ons as beheerliggaam van Gimnasium is van mening dat behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by ’n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op ’n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leerders en personeellede vry en vrywillig is. Die uitspraak het hoegenaamd nie die regmatigheid van die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys (2003) aangetas nie, en is daar geen werklike bevinding gemaak teen godsdiens nie.
“Ons as skool en personeel sal dus voortgaan om godsdiens te beoefen op dieselfde wyse as wat die afgelope paar jaar die geval is.”