75-jarige veilig ná vier koue nagte buite

Alex Jumaar (75) van Oudtshoorn wat bykans vyf dae vermis was.                Foto: Facebook

Alex Jumaar (75) van Oudtshoorn wat bykans vyf dae vermis was. Foto: Facebook

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE 75-jarige Alex Jumaar van Oudtshoorn wat verlede week vyf dae lank vermis was, is Saterdag gevind.

“Hy het vir vier nagte in ’n vlakkie in Neppon geslaap,” sê George Damons, Jumaar se seun. “Toe ons Saterdag by hom kom, kon ons sien dat hy aangerand was. Hy is op die oor en slaap geslaan en daar was blou kolle op sy ribbes.”

Damons sê Jumaar het verlede Dinsdag vermis geraak toe hy iewers heen op pad was en vermoedelik deur iemand oorrompel is. Hy het klaarblyklik as gevolg van die beserings aan sy kop aan tydelike geheueverlies gely en kon dus nie die pad terug huis toe vind nie.

“Ek was in die Kaap toe dit gebeur. My suster het my laat weet dat hy weg is. Ek het toe maniere gesoek om hom op te spoor.

“Nadat ons boodskappe op Facebook gelos het, het ek baie sms’e en oproepe ontvang. “Ek het seker 3 000 boodskappe oor my pa ontvang.”

Damons vertel dat hy eers twee dae nadat sy pa vermis geraak het, hom as vermis by die Oudts­hoorn Polisie kon gaan aangee het.

“Die polisie was baie behulpsaam. Ons moes egter eers twee dae wag om hom as vermis aan te meld – seker omdat my pa ’n volwassene is.”

Damons sê hy het op en af in die dorp se strate gery om sy pa te soek.

“Ek kry toe Saterdag ’n oproep van iemand wat gesê het dat my pa in Neppon is en dat hulle nou met hom sit en gesels. Toe ek daar kom, het hy my nie herken nie. Dit was moeilik om hom so te sien.”

Volgens Damons het sy pa intussen sy geheue herwin, maar wil hy nie erken dat hy aangerand is nie. “Hy is ’n baie trotse man. Hy was vroeër jare ’n body builder en het seker gedink dat hy die persoon nog kan aanvat.

“Maar hy praat nie oor wat gebeur het nie. Hy is getraumatiseer en ons wil ook nie druk op hom plaas nie.”

Damons beskryf sy pa as ’n “lone ranger” en sê dat hy daarvan hou om onafhanklik te wees. “Hy woon tans in ’n woonstel in mense wat ons ken, se agterplaas. Hy stap gereeld winkel toe en stap elke dag na die dorp se biblioteek. Hy sê dit is die daaglikse oefening wat hy kry.”

Jumaar sterk volgens Damons egter tans goed aan en dit gaan elke dag met hom beter.

“Ons is baie gelukkig en dankbaar dat hy weer veilig by die huis is. Ons kan ook nie genoeg dankie sê aan almal wat help soek het en boodskappe gestuur het nie.”