Seker die laaste foto wat van Corné Swartz (20) geneem is. Dié foto van Corné is Saterdagaand by ’n 21ste verjaardagpartytjie wat hy bygewoon het, geneem. Foto verskaf
• 20-jarige Oudtshoorniet dood in tref-en-trap-ongeluk
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 20-jarige Oudtshoorniet Sondagoggend om 04:00 na bewering na ’n tref-en-trap-ongeluk gesterf het.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die liggaam van Corné Swartz in Zebraweg-Oos, Bridgton langs die pad gevind. Hy het aan kopbeserings beswyk.
Die motor wat hom getref het, het volgens Michaels van die toneel weggejaag. Na verneem word, was Corné op pad huis toe vanaf ’n 21ste verjaardagpartytjie.
Hy het by vriende, Howdean Slambee, haar man en haar skoonma gewoon. Sy ma is oorlede toe hy klein was en sy pa is verlede jaar oorlede. Slambee vertel dat sy sy dood nie oor haar hart kan kry nie.
“Die laaste keer wat ons hom gesien het, was Saterdagmiddag voordat hy na die partytjie gegaan het. Hy het op sy bed gesit en sy skoene gepolitoer. Hy’t nog gesê hy wil netjies aantrek omdat daar baie meisies sal wees en hy hulle wil beïndruk.”
“Hy was soos ’n kind vir my en altyd so ’n liefdevolle mens,” vertel sy. “Hy was altyd baie behulpsaam. Selfs as hy besig was met iets en iemand roep hom, het hy alles net so gelos om te gaan help. Hy was ook lief vir my kinders – my tweeling was mal oor hom.”
Sy sê dit was vreemd dat hy nie na die partytjie huis toe gekom het nie. “Hy het ’n spertyd gehad. Blykbaar het een van die vriende wat saam by die partytjie was, gesê Corné wou vroeër loop omdat hy by die huis moes kom. Ek en my man was ook uit die aand en toe ons net na een by die huis kom, het ons die toeter gedruk.”
Slambee sê wanneer hulle die kar se toeter gedruk het, het Corné gewoonlik uitgekom om die hek oop te maak.
Daardie aand het hy nie.
“Ons het nie baie geslaap die nag nie. Ons het wakker gelê en vir hom gewag. Net na sewe het iemand aan ons deur geklop. My man het opgestaan om te gaan kyk en dit was sy niggie. Haar eerste woorde aan hom was: ‘Corné is dood’.”
Volgens Slambee het almal van Corné gehou. “Hy het nie verdien om op so ’n manier te sterf nie. Hy was nie net enige ding wat jy langs die pad kon los nie.”
’n Gedenkdiens vir Corné word Saterdagoggend by die Slambees se huis in Uranusstraat 5, Bongulethu gehou met die begrafnis om 10:00 in die Independent Church in Impalaweg.
• Enigiemand met inligting oor die voorval kan die Oudtshoorn Polisie kontak by 044 203 9022.