Tussenhuis het steeds steun nodig

Oudtshoorn se Japie Coetzee verlede week tydens ’n besoek aan die Irma Brunchi-kankerhuis in George. By hom is Angela Appels (links) en Agnes Maree. Foto verskaf

DIE Irma Bruschi Tussenhuis op George, waar kan­kerpasiënte van Oudtshoorn en ander buurdorpe tydens bestraling- en chemoterapiebehandeling vir tot ses weke lank kan oorbly, het steeds die steun van individue, besighede, organisasies en kerke nodig om voort te bestaan, sê die Oudtshoorniet en oud-raadslid van Oudtshoorn, Japie Coetzee.

Coetzee, wat by die huis betrokke geraak het toe sy vrou, Jean, voor haar dood daar oorgebly het, het hom verlede jaar daartoe verbind om dié tus­senhuis te help om fondse en krui­deniersware in te samel. Hy het inwoners gemobiliseer om bydraes te lewer. Hy het self van sy dasse en Jean se klere en naaimasjiene verkoop om geld vir die huis in te samel.

“Die reaksie van die gemeenskap was oorweldigend en het gehelp dat die huis se deure steeds oop is,” sê hy.

Coetzee het die afgelope week weer ’n versoek aan mense gerig vir skenkings in die vorm van kruideniersware en geld. Inbetalings kan gedoen word in Cansa se rekening by Absa (rekeningnommer 1007511287, kode 632005). Omdat Cansa uit verskillende afdelings bestaan en net een rekening het, moet die donateur se naam en IBCH by die verwysing geskryf word om te verseker dit bereik die huis.

Alternatiewelik kan Coetzee by sel 082 598 7273 gekontak word en sal hy die skenkings kom oplaai en self na die huis neem.

“Ons kan nie praat van ’n huis weg van die huis af as daar nie suiker, tee, koffie, pap, of geld vir krag en petrol is nie,” sê hy.